
Ná agt opeenvolgende kwartale van onderprestasie of resessie waarin die landbou homself bevind, was die onlangse nuus oor herstel vir die sektor – te midde van die aankondiging dat die RSA-ekonomie nou amptelik in resessie is – meer as goeie nuus. Slegs twee sektore, die landbou met 22,2% en mynbou met 12,8%, het positiewe groei getoon. Te midde van by die dag swakker wordende makro-ekonomiese prestasie, kan tereg die vraag gevra word waar laat hierdie situasie die landbou?
Johan Willemse het reeds verlede jaar in sy Landbouweekblad-rubrieke van 23 en 30 September 2016 sy kommer uitgespreek oor die kwesbare onderbou van die landbousektor ná die droogte. In 'n meer onlangse nuusverklaring het Wessel Lemmer, senior ekonoom van ABSA, ook gewys op die moontlike negatiewe impak van die stand van die makro-ekonomie op die landbou. 'n Nadere beskouing is dus nodig.
Die sikliese verloop in die landbou word hoofsaaklik beïnvloed en bepaal deur klimaat en die ekonomie of makro-omgewing waarvan die binne- en buiteland deel vorm.
Binneland by draaipunt?Wat die klimaat betref, het die binneland na alle waarskynlikheid verlede jaar 'n draaipunt van die droogtesiklus bekyk. Die suidelike deel van die land, wat die binnelandse siklus met min of meer 'n jaar volg, is hopelik nou by die ommekeer. Die landbou het onmiddellik positief reageer met rekord-oeste in die somersaaigebiede. Selfs die Kaapse gebiede het bo verwagting presteer, ten spyte van erge klimaatstoestande.
Die vraag is egter hoe ekonomiese prestasie in die sektor en groter omgewing gaan uitspeel en watter impak dit op die landbousektor gaan laat. 'n Kort beskrywing van die geskiedenis van konjunktuur-patrone toon die volgende.
Tabel 1: Die voorkoms van droogtes en die saamloop met die ekonomiese konjunktuur in die RSA: 1946 tot 2015
Tussen 1800 en 1805 (is as droogte-periode aangeteken), 1821, 1849, 1875, 1887 - 1888, 1892, 1896-‘97 (runderpes het ook voorgekom). Vergelyk dit met die 20ste en 21ste eeu, dan kom duidelike herhalende patrone na vore – met groter geneigdheid of waarskynlikheid vir droogtes in bepaalde periodes.
Dit is opmerklik dat droogtesiklusse herhalend voorkom, binne dekades met die hoogste waarskynlikheid in die eerste helfte van 'n dekade. Gunstige reënval word oorwegend in die tweede helfte van dekades opgemerk met die hoogste waarskynlikheid vir bogemiddeldes in jare 7 en 8.
‘n Verdere beskouing van die geskiedenis van die voorkoms van droogtes toon sonder uitsondering ‘n sameval met algemene swak ekonomiese prestasie. Sedert 1918 het die RSA altesaam 11 droogtes beleef (ingesluit die huidige), waarvan vier met 'n langer verloop as drie jaar. 'n Waarneming is dat droogtesiklusse die afswaai in die groter ekonomie voorafgaan (sien Tabel 1).
Sterk invloed‘n Vergelyking van die RSA ekonomiese konjunktuur, met dié van handelsvennoot-lande, toon vanaf die sestigerjare slegs een uitsondering waar die RSA-siklus uit fase was met dié van die handelsvennote. Die sterk invloed van die internasionale omgewing op die RSA se ekonomie is dus baie duidelik.
Die swak ekonomiese prestasie van handelsvennote, die makro-ekonomie van die RSA asook die geïntegreerde wisselwerking daarvan op die landbousektor, maak teen die agtergrond van die droogtesiklus, die huidige situasie uiters kompleks en is bepalend vir die pad na herstel.
* Wat maak die konjunktuur-verloop van die landbou en die groter ekonomie hierdie keer anders as vorige siklusse?
Siklusse verskil vanweë omstandighede, deur die aard en omvang, asook die invloed op veranderlikes, en is uiteraard bepalend vir die herstel en ekonomiese prestasie van die landboubedryf.
Die volgende is aspekte wat in hierdie opsig duidelik bly is Regeringsbeleid, ingrepe op die ekonomie, staatskaping, en die RSA-konjunktuur wat uit fase is met dié van die wêreld-ekonomie.
* Die makro-ekonomieDie makro-ekonomiese prestasie en die skep van vraag op die pad na herstel vir die landbou, is van kritiese belang en kan alleen geskied deur ekonomiese groei, wat tans onder erge druk verkeer.
Onlangs is die besigheidsvertroue-indeks van die Buro vir Ekonomiese Navorsing aan die US met 29 punte verlaag tot die laagste vlak sedert die 2009-resessie.
Die MMI en Unisa-indeks om die finansiële kwesbaarheid van verbruikers te meet, is met 0,7% afwaarts aangepas. Die AGBIZ/IDC se vertroue-indeks vir landboubesighede is ook met een indekspunt verlaag tot 56, hoofsaaklik ondersteun deur positiewe verwagting oor kapitale investering, markaandeel, indiensneming, uitvoere en slegte skuldvoorsienings teenoor die negatiewe van omset, netto bedryfsinkomste, ekonomiese groei, algemene landbou toestande en finansieringskoste. (Sien grafiek hieronder).
Ekonomiese prestasie/herstel van die landbou is vir nou oor die kort en medium termyn grootliks uitgelewer aan die makro ekonomiese prestasie. Vraag is waar is ons op pad heen? Veranderlikes wat 'n wesentlike invloed op die landbou uitoefen, soos die rentekoers, wisselkoers, invoere, energiekoste, algemene inflasie en produksiekoste, speel oor die kort- en mediumtermyn ‘n beduidende groter rol in die lewe van die landboubedryf en word grootliks beïnvloed deur die makro-ekonomie.
Die ekonomiese inkrimping met 0,7% in die eerste kwartaal van die jaar is hoofsaaklik gelei deur die handelsektor met -5,9%, vervaardiging -3,7% en vervoer -1,6%. Ekonomiese groei het reeds sedert 2011 afgeneem (sien grafiek hieronder). Landbou het vir 2015 en 2016 met onderskeidelik -6,1% en -7,8% ingekrimp. 'n Voortsetting van 'n afwaartse besigheidsiklus wat reeds in Desember 2013 begin het.
Die invloed van die afgraderings en die roekelose Regeringsbeleid, strooptogte en waardevernietiging, aan die orde van die dag, kan egter net bydra tot verdere stagnasie.
Die saamgestelde reële groei vir die wêreld-ekonomie het effens verlangsaam teen die einde van 2016 hoofsaaklik as gevolg van die VSA. Wat 2017/’18 betref voorsien die IMF sywaartse groeiprestasie van tussen 3,4% en 3,6%. Brasilië, Indië en Meksiko, word uitgesonder as onder-presteerders.
Volgens die CPB Netherlands Bureau for Economic Policy Analysis het wêreld-uitvoer volumes vir die laaste drie maande op 'n jaarbasis vir 2016 met 6,9% gegroei, hoofsaaklik die bydrae van ontwikkelende lande. Ook kommoditeitspryse dui op herstel.
Positiewe momentum in die wêreld-ekonomie en voortgesette hoër kommoditeitspryse behoort vir die RSA-ekonomie en die landbou 'n positiewe in te hou.
Die wisselkoers het bo verwagting presteer ná die vloedgolf van negatiewes uit die politiek en Regering. 'n Effense verswakking, die nagevolg van die jongste regeringsaankondigings oor ondermeer die mynbou, kan te wagte wees. 'n Positief vir RSA-uitvoerders.
Voortgesette swak sake- en verbruikersvertroue gaan manifesteer in voortgesette lae vlakke van investering deur die private sektor en swak huishoudelike verbruiksbesteding. Alles werk deur na indiensneming en ons sien reeds die effek in die toenames in werkloosheid, wat net verder in die jaar kan vererger. Indiensneming was sedert 2014 tot 2016 hoofsaaklik deur die owerheid in stand gehou deur die skep van 74 000 werksgeleenthede teenoor 'n afname van 34 500 in die private sektor. Indiensneming sal net herstel met 'n opwaartse besigheidsiklus.
Voortgesette druk word verwag op die krimpende reële besteebare inkome en leidende rol in die lae vlakke van verbruikersvertroue. Dit speel 'n kritiese aspek in die vermoë van die verbruiker om te bestee aan voedsel, en sal te midde van die groter aanbod en stram vraag, pryse van landbouprodukte onder druk plaas. (Sien grafiek hieronder.) In Januarie 2017 het produsentepryse reeds met -4,8% verlaag teenoor die pryse van voedselvervaardiging wat toeneem met 10,6% en voedsel verbruikerspryse met 11,8%.
* Waar bevind die landbou hom?
'n Beskouing van die prysvlak-verandering van huidige pryse teenoor verlede jaar dieselfde tyd toon die volgende:
Tabel2: Prysverandering (Junie 2017 teenoor Junie 2016)
Prysdruk word ook in die groentesektor waargeneem vanweë die groot aanbod en stram vraag.
Die vrugte-uitvoermark behoort bevredigend te presteer. Maar die droogtetoestand in die suidelike deel van die land gaan ongelukkig sy tol eis.
* Wat kan hiervan gemaak word?
Goeie produksie-omstandighede en hoë hektaar-opbrengste, versag die effek van 'n kosteprys-knyptang vir baie somersaaiboere. Dan is 'n goeie bemarkingstrategie 'n voorvereiste, indien dit nie die geval is nie, kan dit erg sukkel. Die effek van die groot oes sal t.o.v. aanbod moontlik oor rol na volgende jaar in afwagting van beter pryse deur sommige boere. Om dus weer balans te vind tussen vraag en aanbod, gaan tyd neem.
Ook die veebedryf is in 'n konsolidasiefase met kuddebou ná die droogte. Net 'n paar boere is in die posisie om die hoë vleispryse te benut.
Gemiddelde pryneigings van wild vir Maart 2017 teenoor Maart 2016 toon vir kleurvariante 'n daling van 86,4%, hoëwaarde spesies -46,7% en vlaktewild -8,7%.
Volgens dr. Flippie Cloete van die Departement Landbou Ekonomie aan die Vrystaatse Universiteit gaan dit die meeste wildboere 'n seisoen of twee neem om die negatiewe finansiële invloed van die droogte te oorkom. Die meeste boere is tans in 'n finansiële konsolidasiefase – die gevolg van laer vraag en pryse. Daar is dan ook van 'n verkopers- na 'n kopersmark beweeg.
* SamevattingHoewel die bruto produksiewaarde vir die landbou in die eerste kwartaal van 2017 'n verbetering toon, sal dit onverantwoordelik wees om anders daaroor te dink as die begin van 'n pad van herstel wat 'n paar jaar gaan duur.
Klimaatgewys dui alles daarop dat die landbou weer 'n beter tyd tegemoet gaan. Die landbou word ongelukkig as 'n politieke oefenveld gebruik, met inhiberende gevolg op alle vlakke.
Buitelandse ekonomiese prestasie behoort vir RSA-uitvoerders gunstige voordele in te hou. Hierteenoor moet die moontlike swak binnelandse ekonomiese prestasie en 'n uiters ongunstige politieke klimaat wat sal voortgaan, tot minstens met die verkiesing in 2019, verreken word. Dit raak die verbruiker en private sektor negatief en spoel oor na die landbou, wat die pad van herstel beïnvloed en die lewe van baie mense in die sektor op 'n permanente basis raak.
Te midde van meer gunstige produksie-omstandighede sal dit meer as ooit noukeurige beplanning en veral bemarkingstrategieë verg om volhoubaar te bly.
Dit is 'n moeilike tyd vir die landbou, maar ook een met geleenthede.
* Johann Bornman is 'n ekonoom en voorsitter van Agri Development Solutions jchb@mweb.co.za