
“Koejawel-, mango- en papajaboere kan gerus nóg meer bome plant, want die vraag na vrugtesappe in Suid-Afrika is aansienlik groter as die aanbod en daarom moet die land elke jaar gekonsentreerde sap invoer,” sê mnr. Daan de Kock van Fruit Processors op Hoedspruit.
De Kock het tydens die Subtropbemarkingsimposium op Witrivier in Mpumalanga gesê naas lemoensap is mangosap die gewildste sapsoort in Suid-Afrika. Die sapbedryf is gewoonlik die laaste plek waarheen ’n boer met sy vrugte gaan voor hy dit moet weggooi. Die verwerkingsektor is in ’n moeilike posisie. Produsente wil gewoonlik heel eerste weet wat die prys is en onmiddellik daarna wanneer hy betaal gaan word.
Verskeie faktore veroorsaak dat die sapbedryf tans onder groot druk verkeer: “Eerstens is dit ons verhouding met ons produsente om vrugte te kry, tweedens is dit ons toerusting en derdens ons personeel. Sonder vrugte, sonder toerusting en sonder personeel kan ons niks doen nie. Ons het tans ’n goeie mark, hoofsaaklik omdat die vraag groter as die aanbod is,” sê De Kock.
Plant meer en bemark regstreeks
Volgens De Kock het mnr. Whitey Basson groephoof van Shoprite/Checkers gesê elke minuut word twee mense in Suid-Afrika gebore wat moet eet. Dit beteken dat wat ook al geproduseer word, word geëet. “As daar een ding is wat ek kan sê, is dit om méér bome te plant. As julle nie meer bome plant nie, sal ons nie in die vraag kan voorsien nie. Hoewel baie van ons ’n bietjie bang vir Afrika is, is dit ’n groot groeipunt. Een van die groot knelpunte in die bedryf is prysdruk vanaf die mark. Bemark self regstreeks en probeer sover moontlik die middelman uitskakel,” gee De Kock advies. Die uitwerking van grondeise op die verwerkingsbedryf moet nooit onderskat word nie. Net in Fruit Processors se geval het die inname van 39 000 t vir mangosap, mango-atjar en gedroogde mango’s in 2010, byvoorbeeld, verlede jaar tot 27 000 t afgeplat.
Sapkonsentraat word vanaf Argentinië, Brasilië en Indië ingevoer om plaaslike tekorte mee aan te vul. Die verwerkingsbedrywe in Brasilië is baie omvangryker as in Suid-Afrika en een enkele fabriek spog met, byvoorbeeld, 150 verwerkingseenhede wat net soveel is as wat al die verwerkers saam in Suid-Afrika het! Hul geriewe is goed, maar ons gehalte is beter,” sê De Kock.
De Kock moedig versappers aan om lede van die SA Fruit Juicers Association (SAFJA) te word. Dié organisasie wil die bedryf se professionalisme verhoog deur hoë standaarde en integriteit na te streef en om sogenoemde “onwettige” versappers aan die kaak te stel. Wees bedag op komende veranderinge in die sapbedryf vanweë nuwe vereistes wat, byvoorbeeld, die gebruik van onnatuurlike kleurstowwe uitsluit. “Koejawelsap is mos uiteraard pienk en beslis nie rooi, soos wat sommige sappe op winkelrakke lyk nie,” verduidelik De Kock.