
“’n Groot uitdaging staar die wêreld se varsproduktebedrywe in die gesig, naamlik om méér voedsel te produseer met minder hulpbronne én met behoud van verbruikersvertroue in voedselveiligheid,” sê mnr. Joe Pezzini, die voorsitter van die Produce Marketing Association (PMA) se komitee vir voedselveiligheid, wetenskap en tegnologie asook die uitvoerende hoof van Ocean Mist Farms. (Die PMA is ’n internasionale handelsvereniging vir die varsprodukte- en blombedrywe.)
En juis daarom, sê Pezzini, gaan die PMA vanjaar sy betrokkenheid by veral die wetenskap en tegnologie uitbrei met ’n weldeurdagte strategiese plan. Hierdie plan berus op twee unieke aanbiedings asook betrokkenheid by tegnologie-ontwikkeling reg deur die jaar.
Die PMA se strategiese plan is opgestel met die hoofdoel om sy lede te help om hul ondernemings doeltreffender én winsgewend te bedryf. Die eerste van die twee inligtingsgeleenthede behels tegniese aanbiedings en gesprekvoering wat veral op die ontluikende tegnologie sal fokus. Tydens die tweede inligtingsgeleentheid gaan kennis oor die tegnologie vir die volgende drie tot vyf jaar oorgedra word.
Wat tegnologie-ontwikkeling betref, sal deur die jaar aandag gegee word aan nasporingstegnologie vir produk-integriteit, die bestuur van produksie-insette met die klem op die jongste tegnologie en die waarde van rekordhouding en statistiek.
Meer inligting oor die PMA is beskikbaar by die webwerf www.pma.com.