
Só bly boere bewus van die groot prentjie en los hulle gewasen grondprobleme betyds op, wat tot hoë gemiddelde opbrengste lei.
Data is die kruks van presisieboerdery en deesdae kan enige boer lag-lag enorme hoeveelhede data insamel. Die probleem is egter om sin te probeer maak van hierdie massas data en dit tot voordeel van die boer aan te wend.
Dit is juis hierdie gaping wat die landboumaatskappy GWK wil probeer vul deur aan boere ’n volledige presisieboerderydiens te verskaf. Sedert hy daarmee begin het, het die sogenoemde fokusklante se gemiddelde koringopbrengs met 1,2 ton/ha en die gemiddelde mielie-oes met 2,2 ton/ha geklim.
“Tegnologie en data is die toekoms. As ons nie boere help om tegnologies vooruit te gaan nie, gaan hulle stagneer en ’n ding wat stagneer, gaan dood,” sê mnr. Dup Haarhoff, hoof van landboukundige dienste by GWK Agri op Douglas, oor hierdie baanbrekersprojek, wat ’n holistiese benadering volg en nou saamwerk met die universiteite van Stellenbosch, Pretoria en die Vrystaat. Hulle het in 2006 met die benadering, wat hulle hoëtegnologieboerdery (die boere praat sommer van HTB) noem, begin.
In ’n neutedop word grondfisika, -chemie en -water alles in ag geneem en met die hulp van afstandswaarneming en -monitering word daar oplossings vir probleemgebiede op spilpuntvlak gevind om opbrengsverbeterings mee te bring.
Kliek op die PDFs hier onder om die volledige artikel te lees.
• Dié artikel is geborg deur GWK. Besoek GWK se webblad by http://www.gwk.co.za/