
Waarde-vir-geld sportnutsvoertuie (SNV’e) wen al hoe meer veld namate verbruikers al hoe erger deur die ekonomiese kosteknyptang gekarnuffel word. Die Chinese vervaardiger Haval het pas vir hom ’n staanplek op plaaslike bodem losgewoel as ’n filiaal van die Chinese GWM-groep wat reeds ’n dekade lank hier flink sake doen.
Haval vervaardig die afgelope 14 jaar baie suksesvol SNV’e in China en het verlede jaar meer as een miljoen nuwe eenhede van hul monteeraanlegte laat rol. Haval spog onder meer met ’n vyfster-veiligheidsgradering na botstoetse en nóg ’n vyfstertoekenning van die Chinese pubiek as die heel beste SNV-vervaardiger in dié land.
Hoewel die nuwe reeks se pryse uiters mededingend is, is dit allermins afskeep-rygoed: Hoe klink ’n bestuurdersitplek met ses elektriese verstelllings, hoofligte en ruitveërs wat vanself aan- en afskakel wanneer dit nodig is asook voor-, sykant- en gordynlugsakke, hoë gehalte kamma-leer bekleding en ’n hoëresolusie-raakskerm vir die sentrale inligtingstelsel?
Die Haval H2 se kragbron is ’n 1.5 liter turboaangejaagde petrolenjin wat 105 kW drywing lewer en oor 202 Nm se wringkrag beskik. Die reeks bied kopers ’n keuse tussen ‘n sesgang-handratkas en ’n sesgang-outomatiese ratkas. Die nuweling word gewaarborg vir vyf jaar of 100 000 km, ’n diensplan vir vyf jaar of 60 000 km asook ’n padbystandsdiens vir vyf jaar met onbeperkte afstand word by die koopprys ingesluit.
Daar is ses Haval H2-modelle in die reeks en die pryse strek van R244 900 tot R309 900 (BTW ingesluit).