
Dit het ook gelei tot siektes wat deur bosluise en insekte oorgedra word, sê dr. Faffa Malan, bestuurder van die Herkouerveterinêre Vereniging van Suid-Afrika (Ruvasa), in sy verslag oor veesiektes wat in April aangemeld is.
“Nou is die tyd om saam met jou veearts te gaan sit en jou bestuursprogram vir die volgende reënseisoen te beplan en te verbeter. Plaas ook betyds bestellings vir entstowwe teen die siektes wat in jou gebied voorkom.”
Hy sê die kernboodskap uit die siekteverslag is dat indien die diereproduksie-sektor siektes wil beheer, dit noodsaaklik is dat die hele sektor moet saamwerk. “Begin by jou eie plaas, jou bure, jou gebied en jou provinsie en doen alles korrek om die verspreiding van siektes te voorkom.”
Malan wat in die April-verslag ook baie op bek-en-klouseer klem lê, sê die groot rede vir die verspreiding van hierdie hoogs aansteeklike siekte was die onwettige vervoer van diere wat die siekte gehad het. “Dit moet tot elke prys voorkom word.”
Volgens die jongste opvolgverslag van die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling einde Mei is daar tans 80 gevalle van bek-en-klouseer in die voorheen siektevrye gebied. Die eerste gevalle het in Mei verlede jaar in KwaZulu-Natal voorgekom. Die volgende uitbrekingss was in Maart vanjaar in die voorheen vrye deel van Limpopo en vandaar het dit weens die onwettige vervoer van beeste na Noordwes, die Vrystaat en Gauteng versprei.
“Eienaars van voertuie is wetlik verplig om nommerplate op hul voertuie te hê. Net só moet alle beeste ’n geregistreerde brandmerk hê om eienaarskap te bewys en in die toekoms sal hulle ook met behulp van goedgekeurde oorplaaitjies geïdentifiseer word.”
Vir die tabel van dieresiektes wat aangemeld is, is hier beskikbaar.