Die betreklik hoë prys van beesvleis sal na verwagting die res van die jaar voortduur. 'n Toename in vleisinvoer vanaf Nieu-Seeland en Australië op die kort tot mediumtermyn is ook moontlik, sê mnr. Dawid Snyman, landbou-ekonoom van AbsaAgribesigheid.
Hy het op die Landbounavorsingsraad (LNR) se jaarlikse boeredag op die Armoedsvlakte-bultoetssentrum by Vryburg gesê die toename in die invoer kan aan die wisselkoers en die huidige lae vlakke van die invoerpariteitsprys toegeskryf word. Hy sê die nasionale kudde word ál kleiner weens die droogte, maar die syfer sal stabiliseer. Dit kan die aanbod van speenkalwers bevoordeel.
Die betreklik hoë prys van skaapvleis teenoor dié van bees, vark en hoender skep die geleentheid vir beesvleis om markaandeel te herwin, veral in die lig van huidige vlakke van besteebare inkomste en die groeiende middelklas. Hy sê skaapvleis sal al meer op 'n nismark fokus.
Die boereprys van beesvleis (klas A2/A3) het op 'n jaar-tot-jaar-grondslag tot April met gemiddeld 8,3 % gestyg, terwyl klas C2/C3 se prys met 6,5% gedaal het. Die invoerpariteitsprys van Nieu-Seelandse vleis het met 17,3% gestyg en is tans hoër as die plaaslike prys.
In April vanjaar is altesame 8,9% minder beeste as in Maart geslag, maar 16,1% meer beeste as April verlede jaar.
Snyman sê die nasionale kudde was verlede jaar in 'n groeifase hoofsaaklik weens die swak graanpryse wat die fokus na die veebedryf laat verskuif het. Kuddes is ná die droogte in 2004 weer opgebou. Dit het gelei tot 'n skerp toename in aanteelvee- en speenkalfpryse. Vanjaar se droogte sal die teenoorgestelde uitwerking hê - veral in die tweede helfte van die jaar.
Die verwagting is dat die slag van beeste in die derde kwartaal vanjaar gaan toeneem en sal aanhou op die verhoogde vlakke tot volgende jaar. Dit is weens die tekort aan winterweiding.
2 Augustus 2007