
’n Suid-Afrikaanse Pinotage het as wenner uit die stryd getree by vanjaar se Decanter World Wine-toekenningsgeleentheid en het 10 285 ander inskrywings geklop. Die Decanter-toekennings is die wêreld se grootste wynkompetisie en die Kaapzicht-landgoed se Steytler Pinotage 2006 het die trofee vir die beste rooi kultivar bo £10 opgeraap.
Die Kaapzicht-landgoed is in die Bottelary-heuwels naby Valsbaai in die Wes-Kaap gesetel. Die betrokke wyn is twee jaar lank in Franse eikehoutvatte verouder. Dié prestasie is ’n historiese geleentheid vir die Suid-Afrikaanse wynbedryf omdat die Pinotage-druif ’n plaaslik gekweekte kultivar is.
“Die Bottelary-heuwels is ’n prima wynbouterrein vir rooiwyn. Die heuwels op ons landgoed is 20 km van die kus van Valsbaai en naby die Atlantiese Oseaan geleë. Pinotage is ’n veelsydige rooiwynkultivar. Die Kaapzicht Steytler Pinotage vanaf dié wingerde is ’n toonbeeld van die ernstige, deeglike houtverouderde, volswaar styl wat saam met kos geniet word,” sê mnr. Danie Steytler, keldermeester.
Op die meegaande foto klink die Kaapzicht-span ‘n glasie op die internasionale sukses van die Kaapzicht Steytler Pinotage 2006. Van links is mnre. Danie Steytler (wynmaker), George Steytler (eienaar en wingerdboukundige) en Danie Steytler (eienaar en keldermeester).
7 September 2009