
Die algemene publiek dink veeboere boer met vee en wildboere met wild. Suksesvolle vee- en wildboere dink weer hulle boer met weidings.
Hulle voeg net waarde by hulle produk deur diere daarop te teel, groot te maak en te bemark. Dit is makliker om vleis te vervoer as hooi. Die verskil is net 'n denkskuif groot.
Die bekende handelsmerk vir elektriese handgereedskap vir die doen-dit-self entoesias het vir lank gedink hulle produk is elektriese handgereedskap. Totdat hulle die denkskuif gemaak het en besluit het hulle is in die mark vir gate.
Hul mark het merkwaardig uitgebrei en hulle vervaardig nou boorpunte, veiligheidsklere en -brille, materiaal om gate mee te vul, ankers, sae en wie weet nog wat. Gate is 'n groter mark as handgereedskap.
Swart en Dekker (van Engelse faam) bemark nou omtrent 80% gategoeters en net ongeveer 20% elektriese handgereedskap.
Hoe is dit dat die meeste veeboere (ook wildboere) bykans 80% van hulle en hul helpers se werkstyd en net soveel van hulle fondse aan dieregesondheid, teling, produkverwerking, rekordhouding en veiligheid rondom hulle diere (en persoon) bestee?
Wat is noodsaaklik?
Al hierdie dinge is belangrik, maar wat is noodsaaklik? As weiding verswak of verdwyn sal al die ander dinge onsinnig wees.
Dink daaraan: Hoeveel (aandag, tyd en geld) het jy die afgelope jaar aan weidingaspekte bestee? Ons weet presies hoeveel teeldiere ons het, hoeveel nageslag daar was en watter massa ons verkoop het. Maar hoeveel produktiewe en vreetbare voerplantspesies is in ons veld?
Verlede jaar het ons presies soveel lammers/ kalwers gespeen. Hoeveel smaaklike grassaailinge het in dieselfde tyd gevestig?
Die gemiddelde gewig van ons verkoopte aanwas was presies soveel kilogram. Hoeveel vreetbare materiaal is/was op die veld?
Bemarking en versekering het ons presies soveel uit die sak gejaag. Hoeveel het ons aan veldevaluasie en veldverbetering bestee?
In die vorige boekjaar het ons presies soveel verliese aan vee gely. Hoeveel bogrond het weggespoel of weggewaai? Watter smaaklike grassoorte het verdwyn en groei nou net in die padreserwe? Hoeveel water het weggeloop?
Stap jy in jou veld?
Stap jy eers noukeurig waarnemend deur die veld voordat jy jou diere tel, of dip? Waarom is dit nodig?
Daar is aanduidings dat alternatiewe veldbestuursmodelle die vermoë van grasse met tot vyf keer kan vermeerder sonder skade aan die omgewing.
Indien die vee- of wildboer net sy veld se vermoë kan verdubbel (twee keer meer diere kan dra), beteken dit effektief dat hy 'n ewe groot plaas langsaan bygekry het, sonder om daarvoor te betaal.
Hoeveel is 'n ewe groot stuk eiendom as die een waarop jy boer werd?
Hoe sal dit die winsgewendheid, produksievermoë en onderhoubaarheid van jou onderneming verbeter indien jy jou weiding verdubbel?
Hoeveel het mnr. Swart en sy vennoot se besigheid gebaat by hulle denkskuif (van gereedskap na gate), dink jy? Maak 'n skatting. Werk op 80% van vorige produksie.
" A brand is a promise and a product is an artifact of that promise."
Wat is jou handelsmerk?
Die wêreld se verbruikers soek groen produkte met 'n groen herkoms vanaf volhoubare (groen) voorsieners. Is jou handelsmerk slagdiere of volhoubare, natuurlike produkte?
Advertensie-ghoeroes vra gewoonlik: Watter onbewuste beloftes het jy aan jou kliënte gemaak? Wat sal hul belewenis wees as hulle jou plaas besoek, met jou werknemers gesels, jou produkte bekyk?
Wat is ons handelsmerk ("brand")? 'n Groen (natuurlike) omgewing waar groen (organiese) produkte op 'n groen manier (volhoubaar) geproduseer word, of die sny rou biefstuk op 'n vuur? Wat sal verbruikers meer opgewonde maak?
Wat is die veeboer se belofte aan die verbruiker? Gehalte diere of gehalte omgewing? Rooi of groen? Eksploitasie of bewaring? Keel afsny of groter biodiversiteit?
Wat is die verwagting van die verbruiker vir ons produk? Eksploitasie van diere en die omgewing of bewaring van ongerepte natuur? Wat sal hulle indruk wees wanneer hulle jou plaas besoek?
Is ons in die rooivleisbedryf of in die omgewingsbedryf? Verbruikersvertroue en 'n groter mark is net 'n kopskuif ver.
* Die skrywer, Johan Manson, is 'n weiveldspesialis en raak opgewonde oor natuurlike veld en die verbetering daarvan. Skakel of WhatsApp hom by 073 285 1414 of vonkpos by: ilovelimpopo@gmail.com.