Die uitdaging lê egter daarin om maniere te vind waarop boere meer geld maak en die verbruiker nog voedsel kan bekostig.
Só sê mnre. Arnold Brand en Gerhard Schutte van die Rooivleisprodusente-organisasie wat pas uit Pole teruggekeer het waar hulle die Internasionale Federasie van Landbouprodusente (IFLP) se kongres in Warschau bygewoon het.
Uit die voordragte op dié kongres is dit vir hulle duidelik dat kos vir die volgende 30 jaar duur gaan bly as gevolg van die lae groei in produksie met betrekking tot die vraag en die dramatiese styging in produksiekoste.
Die afgelope 18 maande het die prys van rys met 300% gestyg. Mielies het 66% duurder geword en koring 100%. Die prys van graan raak die produksie van rooivleis regstreeks, wat dit ook duurder laat word.
Altesame 32 lande se regerings het al stappe gedoen om die probleem hok te slaan deur verlaging in belastings, die opheffing van invoertariewe en BTW op kos. Maar dié hoë voedselpryse behoort produksie te verbeter, produsentepryse te laat styg en só geleenthede vir die landbou te skep.
Landbouweekblad, 20 Junie 2008