
By verskeie vergaderings waar hy teenwoordig was, het boere wat Anatoliese herdershonde aangeskaf het genoem dat van die honde wild jaag. Sommige het aangedui dat jakkalse en rooikatte doodgemaak is. Alhoewel die boere etlike duisende rande per hond betaal het, is verskeie van die honde op die ou end, weens die probleme wat die honde veroorsaak, deur die eienaars self vankant gemaak.
Só sê mnr. Thys de Wet van die Animal Damage Control institute (ADCI). Die ADCI spits hom daarop toe om oplossings vir mens/dier-konflikte te bewerk. Dit word gedoen deur navorsing na, en die ontwikkeling van doeltreffende en selektiewe beheermetodes om probleme op so 'n omgewingsvriendelike manier as moontlik op te los.
De Wet het die pen opgeneem ná die debat oor Woolworths se aankondiging dat hy vorentoe graag skaapvleis by “roofdiervriendelike” boere wil koop. Onder meer is verwys na die gebruik van Anatoliese herdershonde, wat ‘n boer vir Woolies se program in aanmerking kan bring.
De Wet vra dus die vraag: “Hoe ‘roofdiervriendelik’ is Anatoliese herdershonde?”
De Wet verwys na navorsing in 2002 deur dr. Laurie Marker van die Cheetah Conservation Fund (CCF) van Namibië, in haar PhD-verhandeling oor die biologie, ekologie en bewaring van die jagluiperd op Namibiese plase. Die studie sluit 'n ondersoek na alternatiewe beheermetodes vir skade aan vee in.
In die bespreking oor die 157 herdershonde word genoem dat 94,4% van die honde gedragsprobleme getoon en dat korrektiewe opleiding slegs 61% kon rehabiliteer om as werkende honde ontplooi te word. Die drie grootste gedragsprobleme was:
* 44% het wild gejaag (geen statistiek oor hoeveel wild gevang is nie).
* 37% van die probleem honde het by die kraal gebly en nie saam met die vee veld toe gegaan nie.
* 25% het vee lastig geval of doodgemaak.
Uiteindelik is 43% van die honde uit die projek verwyder, of, omdat die gedrag nie reggestel kon word nie of omdat die honde dood is – 21% van die honde wat dood is, is deur die eienaars self geskiet. ‘n Verdere 6% is deur die buurman of ander boer doodgeskiet. Die meeste is egter deur ongelukke, siekte en vergiftiging dood.
De Wet sê die lig het opgegaan met die verskyning, in 2011, van Gail Potgieter se MSc-verhandeling met die titel: “The effectiveness of livestock guarding dogs for livestock production and conservation in Namibia.” Dr. Marker was een van die toesighouers oor dié verhandeling, aldus De Wet.
Sowat twee derdes van die Anatoliese honde in dié studie is vergesel deur veewagters wat die dag in die veld saam met die honde deurbring en ‘n ogie kon hou. Die honde is by kommersiële en gemeenskapsboere geplaas. Hoewel 30% van die kommersiële boere geen verskil in roofdierskade ondervind het nie, was die 76% van al die boere in die proef tevrede dat daar ‘n noemenswaardige afname in veeverliese was.
Die vraag is egter hoe roofdier-vriendelik die honde is, sê De Wet. Reeds in die inleiding van die tesis lees 'n mens dat 37 van die honde jakkalse doodgemaak het, nege het bobbejane doodgemaak, drie rooikatte en een het selfs ‘n jagluiperd doodgemaak, asook ander diersoorte.
Minstens 83 diere is deur Anatoliese honde doodgemaak. Sowat 63% van die Anatoliese honde het diere doodgemaak.
Nadat die herdershonde uitgeplaas is het die boere self noemenswaardig minder jakkalse en rooikatte doodgemaak. Saam met die honde se oes is daar egter bykans dubbel soveel jakkalse en rooikatte doodgemaak nadat die honde op die plase begin werk het! Daar was egter ‘n skerp afname in die aantal jagluiperds wat doodgemaak is.
Volgens De Wet was dit vir boere nie ‘n probleem nie, aangesien die roofdiere en selfs die bobbejane as teikendiere beskou word omdat hulle veeverliese veroorsaak. Verskeie internasionale bewaringskundiges beveel ook aan dat dodelike en nie-dodelike beheer van skade saam gedoen moet word waar die skadeveroorsakende diere volop is.
Hoe vergelyk hierdie stand van sake met ander lande?
De Wet sê in Suid-Afrika ly natuurbewaring ernstig onder chroniese geldtekort en kan die mens-dier konflikhantering nie tot sy reg kom nie. Die eerste opvallende aspek van die Amerikaanse stelsel is die begroting vir sy Wildlife Services. In 2012 was dit bykans VSA$150 miljoen, waarvan die National Wildlife Research Center (NWRC) sowat VSA$15 miljoen gehad om mee te werk.
Daar word jaarliks tot 150 publikasies van hulle werk toegevoeg tot die kennis van mens-dier konflikhantering. Die NWRC publiseer jaarliks ‘n glanstydskrif waarin hulle spog met alles wat hulle bereik het. Kort voor die draai van die eeu was nie-dodelike beheer van skade dié aspek wat groot aandag geniet het.
So net minder as ‘n dekade later het dié aspek egter verdwyn. In teendeel was een van die aspekte betreffende coyotes in die 2011-uitgawe die ontwikkeling van ‘n nuwe natuurlike gifstof vir wat nie sekondêre vergiftiging of omgewingsbesoedeling tot gevolg sal hê nie. In die 2014-uitgawe is een van die coyote-gerigte aspekte die ontwikkeling van meer selektiewe lokmiddels vir die M44 (‘n apparaat wat gif in die coyote se bek inskiet wanneer die coyote dit aktiveer).
Volgens De Wet kon ‘n organisasie met meer as 50 hoogs gekwalifiseerde navorsers en ‘n meer as voldoende begroting oor 30 jaar nie nie-dodelike metodes ontwikkel wat alle dodelike metodes kon vervang nie! En tans is hul idees op!
De Wet noem nog 'n voorbeeld: Die gifstof 1080 word reeds meer as 50 jaar in Australië gebruik om allerhande probleemdiere te bestry. Die regering is egter hard besig om die gifstof te beperk en alternatiewe te soek.
Altesaam Aus$5 miljoen (sowat R20 miljoen teen daardie tyd se wisselkoers) is bewillig om alternatiewe oplossings vir die konflik te soek. Verskeie navorsers het saam met omgewingsaktiviste deelgeneem aan die “Alternatives to 1080”-program.
Die uitkoms is dat die skiet van die diere (deur professionele jagters) die enigste huidige oplossing is wat die nodige verligting van die probleem kan verseker en wat vergelyk kan word met die effek wat 1080 gehad het. Die enigste ander potensiële oplossing, wat nog verfyn word, is die gebruik van ‘n ander gifstof wat nie die nadelige omgewingseffekte van 1080 het nie.
Om terug te keer na herdershonde self. Heelwat van die riglyne wat bestaan oor die beste aanwend van herdershonde stipuleer dat ‘n hond, afhangend van die terrein en digtheid van plantegroei, 200 tot 300 skape kan oppas in kampe wat ook sowat 200 tot 300ha beslaan. Al is ‘n hond se sintuie baie skerper as ‘n mens s’n, is dit tog ook beperk en is dit logies dat honde nie onbeperkte groot getalle vee in onbeperkte groot areas kan beskerm nie.
Daar is niks mee fout om te strewe na roofdiervriendelike skadebeheer onder vee nie – die ideaal moet nagestreef word. Daar moet egter nog heelwat water in die see loop en baie miljoene rand aan navorsing bestee word voor dié ideaal enigsins bereik sal kan word.
* Alle inligting verskaf deur mnr. Thys de Wet (thys@jackal.co.za)
Besoek die Animal Damage Control Institute (ADCI) se webwerf by: http://www.jackal.co.za/