
Die Europese Unie (EU) het in 2005 besluit om alle tariewe en kwotas op suikerinvoere van ontwikkelende lande vanaf die begin van vanjaar af te skaf en dít is die dryfveer agter Illovo Suiker, Suid-Afrika se grootste suikervervaardiger,se besluit om sy belange in Afrika uit te brei.
Die Durban-maatskappy beoog om sy opbrengste oor die volgende vyf jaar met 51 % op te stoot van 1,9 miljoen ton suiker per jaar tot 3 miljoen ton. Die EU se kwota- en tariefaanpassing is nie op groot suikerprodusente soos Thailand, Brasilië, Australië en Suid-Afrika van toepassing nie, maar wel op ander Afrika-lande.
Illovo, waarin Associated British Food ‘n 51 %-aandeel hou, sal nou sy bedrywighede in Suidelik- en Wes-Afrika uitbrei om voordeel uit die EU se beleid te trek. In Zambië wil hy sy opbrengs van 200 000 ton suiker per jaar tot 450 000 ton opstoot terwyl produksie in Mosambiek tot 150 000 ton per jaar sal verdubbel.
Die maatskappy het verlede jaar 266 000 ton en 127 000 ton suiker in onderskeidelik Malawi en Tanzanië geproduseer. Opbrengs in Swaziland sal met 100 000 ton suiker per jaar opgestoot word terwyl sy nuwe aanleg en suikerrietplantasie in Malie na verwagting 200 000 ton suiker per jaar sal produseer.
Bron:
13 Augustus 2009