
’n Werksessie vir verskeie belanghebbendes oor Eskom se beooge kernkragsentrale by Bantamsklip in die Wes-Kaapse Overberg-omgewing was vergeefs nadat verteenwoordigers van die plaaslike gemeenskap en die landbou meer tyd gevra het om kommentaar te lewer.
Die doel van die werksessie was om kommentaar van plaaslike landbouverenigings en die gemeenskap te verkry oor die bepaling van kraglynroetes vanaf Bantamsklip na omliggende hooflyne. Dié kraglyne sal die landbou en toerismebedryf in die omgewing raak.
Gemeenskapslede het hul ontevredenheid uitgespreek met die verloop van Eskom se konsultasieproses oor die kragsentrale en het spesifiek die kort tydperk om die betrokke verslae te bestudeer, gekritiseer. Die onderskeie organisasies meen ook hulle het meer tyd nodig om al hul lede by die proses te betrek.
Boere is tans ook besig om te oes, wat sinvolle bydraes van die landbou beperk. Op verdienste van dié besware is die tydperk vir kommentaar oor die kernkragsentrale tot einde Januarie uitgestel. Onpartydige kenners sal die roetes opstel nadat alle bydraes van die gemeenskap ingedien is.
Bel die Overberg-distrikslandbouvereniging by 028 424 2890 vir meer inligting of stuur ‘n e-pos na overberglv@telkomsa.net .
1 Desember 2009