Belanghebbendes in die kleinveebedryf moet byeenkom om 'n oplossing vir Johne se siekte te kry. Daar is al te lank gesloer en dit is nou tyd dat aanvaarbare oplossings dringend gekry word, sê 'n kenner.
Die enigste manier om die ernstige probleem van Johne se siekte in die skaapbedryf die hoof te bied, is sinvolle samewerking tussen die staat en die bedryf. Aangesien onderliggende wetgewing oor die siekte nie gaan verander nie, is dit nou die bedryf se taak om voorstelle te doen sodat samehangende regulasies verander kan word waar dit nodig is.
Weinig vordering is met die bestryding van die siekte gemaak, maar dit kan nie geïgnoreer word nie, sê prof. Gareth Bath van die Universiteit van Pretoria, sameroeper van 'n adviesliggaam oor Johne se siekte en ander kleinveesiektes.
Bath het op die jaarvergadering van die kleinveetelersgenootskappe gesê baie mense besef nie die erns van Johne se siekte nie. Dit het 'n ernstige uitwerking op produksie - 'n jaarlikse verlies van tot 15 % van volwasse skape. Dit versprei maklik deur aankope, want diere is tot tien jaar lank onopsigtelike draers daarvan.
Dit beteken as 'n diagnose nie gemaak word nie, kan 'n kudde oor tien jaar baie agteruitgaan. As 'n boer dit nie in sy kudde identifiseer nie, vererger dit vinnig. Daarby is toetse nie 100 % betroubaar nie. Die beskikbare entstof wat vrektes en verliese met 90 % kan verlaag, is goed, maar as ingeënte diere onwettig aan boere met siektevrye kuddes verkoop word, kan verspreiding nie voorkom word nie.
Teenoor ander middels vir ander siektes, is die entstof vir Johne se siekte taamlik duur, maar andersins goedkoop ten opsigte van wat dit vir die boer beteken. Wanneer 'n boer daarmee begin het, kan hy nooit weer ophou nie. "Hy kan nie inent en vergeet nie." Dit is dus die beste om die siekte van die plaas af weg te hou.
'n Plaas wat besmet is, kan 18 maande tot twee jaar lank besmet bly, selfs as alle skape onttrek word. Die siekte kan dus nie deur die onttrekking en vervanging van vee opgelos word nie.
As 'n stoetteler diere verkoop wat hy weet besmet is, kan hy volgens wet aanspreeklik gehou word. Boere kan dus nie net hul rug op die siekte draai nie.
Die bedryf moet aanvaar die siekte is 'n bedreiging wat nie sal weggaan nie. Doeltreffende stappe is dus nodig om verspreiding te keer. Mense uit die bedryf moet aanvaar en vertrou word en dit is nodig om konsensus te verkry. Terselfdertyd moet die belange van die Johne-negatiewe én positiewe boere beskerm word.
Sonder 'n opname sal daar geen aanduiding wees hoeveel die siekte al versprei het nie. Dit is dus nodig dat deeglike opnames gedoen word. Dit is tien jaar laas in die Wes-Kaap gedoen. Die ondersoek moet daar begin en na die gebiede uitbrei waar gevalle wel voorkom.
Dit is moontlik om die siekte uit skoon kuddes te hou. Dit kom minder in droër gebiede voor, maar dit beteken nie dat dit glad nie daar kan voorkom nie.
Bath sê Australië het 'n baie suksesvolle program vir die bekamping van die siekte wat deur die boere self bedryf is. Die Suid-Afrikaanse bedryf sal wys wees om dié program te ondersoek en met aanpassings in Suid Afrika toe te pas.
Landbouweekblad, 2 Maart 2007.