Plaaslike wynliefhebbers kan vanjaar die tweejaarlikse Cape Wine wynskou bywoon.
Die wynskou, wat vantevore slegs op buitelandse besoekers gemik was, vind van 30 Maart tot 2 April plaasvind en die meerderheid Suid-Afrikaanse wynmakers sal hul wyne daar uitstal. Dit beteken dat Cape Wine 2004 die grootste wynskou nog in Suid-Afrika sal wees.
Su Birch, hoofamptenaar van Wosa, sê, "Tot onlangs het die Wes-Kaap nie 'n uitstalsruimte gehad wat die binnelandse handel en wynliefhebbers en buitelandse besoekers kon akkommodeer nie. Met die opening van die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum het die prentjie egter verander en kan almal nou onder een dak bymekaar kom. Ewe belangrik is die feit dat die groter ruimte dit moontlik maak om wyne van die toenemende getal wynprodusente uit te stal.
"Cape Wine 2004 sal daarom die mees verteenwoordigende uitstalling nog wees met sowat 75 % van Suid-Afrika se wynmakers wat gaan deelneem 'n die meeste ooit by 'n Suid-Afrikaanse wynskou."
Die getal Suid-Afrikaanse wynprodusente het van 245 in 1995 met 75% toegeneem tot 424.
Van garagistes (wynmakers wat op klein skaal wyn produseer en hul motorhuise vir kelders gebruik) tot boetiekwynmakerye, groot korporasies en koöperasies tel onder die sowat 330 wynmakers wat ongeveer 4 000 wyne te proe sal bied. Dié wyne sluit in nuwe vrystellings, skaars wyne en toppresteerders op internasionale wynskoue soos die International Wine & Spirit Competition, en die SA Nasionale Wynskou en die Fairbairn Capital SA Wyntrofeeskou.
"Die Suid-Afrikaanse mark is net so belangrik soos die uitvoermark vir die voorgesette groei van die bedryf en ons sal plaaslike kleinhandelaars, restaurateurs, wynmaakstudente, lede van die gasvryheidsbedryf en die publiek verwelkom.
"Ons Suid-Afrikaanse ondersteuners is per slot van sake ewe geregtig daarop om te deel in nuwe ontwikkelings soos nuwe wynmakerye, handelsmerke en wynstyle soos buitelandse kopers en verbruikers," het Birch gesê.
Die doel van die uitstalling is om die kollig te plaas op die groei, vernuwing en vooruitgang van Suid-Afrika as 'n wynprodusende land. Die eerste twee dae, 30 en 31 Maart, sal op buitelandse wynkopers en sommeliers konsentreer en die laaste twee dae, 1 en 2 April, sal op die plaaslike handel en verbruikers fokus.
Birch verwag etlike honderd buitelandse gaste wat betrokke is by die wynbedryf in die VK, Europa, die VSA, Kanada, Latyns-Amerika, Australië, Nieu-Seeland, Afrika en Asië, wat Singapoer, Hongkong en Indië insluit.
"Die kaliber van die gaste wat reeds hul bywoning bevestig het, is veral bemoedigend. Hulle wissel van LCBO van Ontario in Kanada, die wêreld se grootste wynkleinhandelaar, tot joernaliste van hoogs aangeskrewe publikasies soos die New York Times, USA Today, Observer, Daily Mail en Harpers."
Birch het ook gesê dat die uitstalling Suid-Afrika se voorste wynmakers geleentheid gee om kontak te maak met top internasionale wynbeoordelaars, joernaliste van die bekenste internasionale reis- en leefstylglanstydskrifte en kopers van multinasionale kleinhandelkettings, sommeliers en spesialisversamelaars.
"Wat Cape Wine 2004 van ander plaaslike wynskoue onderskei, is die feit dat dit spesifiek op professionele wynkopers gemik is. Dit beteken dat die toerusting by die uitstalling van wêreldgehalte sal wees terwyl die uitstalling self ruim en goed ontwerp sal wees. Gaste kan net die beste diens verwag aangesien wynmakers, eienaars van wynmakerye en top bestuurslede self byderhand sal wees. Daar sal ook 'n reeks wynproesessies, elk met 'n spesifieke tema, en besprekings met 'n deskundige paneel gehou word.
"Ons moet met ander toonaangewende wynskoue soos Vinexpo in Bordeaux en Tokio, die International Wine Trade Fair in Londen en WeinPro in Duitsland meeding om die internasionale wynmark se aandag. Daarom is dit allerbelangrik dat Cape Wine 2004 uit die boonste rakke moet wees."
Volgens Birch is een van die hoogtepunte van die vier dae, die Viering van Kaapse Kookkuns by die Kasteel de Goede Hoop, die aand van 1 April. Twintig voorste Kaapse sjefs, onder andere Peter Goffe-Wood, Graeme Shapiro, Margo Janse en Eric Bingo, sal elk 'n kenmerkende dis voorberei en saam met 'n Suid-Afrikaanse wyn bedien. Gaste sal al twintig kombinasies kan proe.
Die toegangsfooi vir Cape Wine 2004 is R200 en dek altwee dae terwyl kaartjies vir die Viering van Kaapse Kookkuns R300 per persoon kos. Besprekings kan aanlyn by www.capewine2004.co.za gedoen word of deur Cape Wine se kantoor by (021) 886 4496 te skakel.
26 Maart 2004