
Kalfhokke of “maternity pens’’ moet koeie kan help om ongesteurd te kalf, potensiële komplikasies verminder en boere tyd en arbeidskoste spaar.
Navorsers aan Denemarke se Aarhus-universiteit ondersoek ’n stelsel wat dragtige koeie se natuurlike behoefte aan privaatheid voor kalftyd ondersteun. Margit Bak Jensen, die projekbestuurder, sê die hele gedagte is om ’n omgewing te skep waar ’n koei kan wegbeweeg sodat sy alleen en sonder enige steurnisse in ’n skoon omgewing kan kalf en waar sy tydens die eerste ure ná geboorte by haar kalf kan bly.
Hierdie driejaar-projek is van stapel gestuur omdat nuwe Deense wetgewing bepaal dat ’n koei in ’n individuele kalfhok moet kalf, en dat die koei en kalf die eerste ure daarna saam moet deurbring. Bak Jensen sê as die projek suksesvol is, sal dit dierewelsyn verbeter en ook kostebesparings met betrekking tot verlies aan melkproduksie en veeartskostes meebring. Minder koeie met siektes wat produksie benadeel, sal lei tot ’n kleiner omgewingsimpak op die melk wat geproduseer word.
Die navorsers ondersoek onder andere die vereistes vir ’n beskutte area wat ’n koei se behoefte aan afsondering tydens kalftyd stimuleer. Hulle beplan om hoogs dragtige koeie naby houers van verskillende afmetings te plaas sodat hulle kan kies waar hulle wil kalf. ’n Hek wat vanself sluit, sal ontwikkel en getoets word. Die idee is dat net een koei per keer toegang tot so ’n kalfhok moet verkry sodat sy en haar kalf privaatheid kan hê. Wanneer die kalfhok en -hek ontwikkel is, sal die navorsers moet bepaal hoeveel “opleiding” die koeie moet ondergaan om dit te gebruik sonder dat hulle aangemoedig moet word.
’n Kudde melkkoeie sal dan die stelsel uittoets: Een groep sal die nuwe fasiliteite gebruik en ’n kontrolegroep sal die tradisionele roete volg. Die uitwerking hiervan op enige komplikasies tydens die geboorteproses, kalfvrektes en -gesondheid sowel as melkopbrengs sal ondersoek word, tesame met die hoeveelheid plaaswerk wat albei stelsels vereis.
'n Voorbeeld van 'n kalfhok of "maternity pen". Foto: www.barnworld.com (Klik net op die foto om te vergroot.)