
“Neem tyd om te lúister en te verstaan, kry die ondersteuning van kundiges, bou vertrouensverhoudings en kommunikeer duidelik en beslissend.”
Dít is mnr. Darryl Jacobs se raad om ’n oplossing te vind vir die kampusgeweld wat universiteite oor Suid-Afrika heen teister. Hy is waarnemende adjunk-direkteur-generaal van landbou-ontwikkeling en ondersteuningsdienste by die Wes-Kaapse departement van landbou. Hy moes verlede September bontstaan toe die eerste vlaag kampusgeweld in Suid-Afrika by die Landboukollege Elsenburg by Stellenbosch uitgebreek het.
Ten spyte daarvan dat Elsenburg “die rigting vir die res van die land ingelei het”, heers daar al die afgelope paar maande “betreklike kalmte” op die kampus.
“Die probleme bly ingewikkeld en ek kom werk elke dag met die hoop dat dinge kalm sal bly, want daar is maar nog baie teer punte,” vertel hy in sy kantoor, ’n klipgooi ver van die kampus waar ’n sweer oopgebars het oor Afrikaans as onderrigtaal.
Xhosasprekende studente (sowat 10% van die kollege) het gemeen Engels behoort die enigste onderrigtaal by die instelling te wees. Hulle het aangevoer as hulle in hul tweede taal moet klas draf, kan die Afrikaanse studente ook in Engels onderrig word.
Tans volg die kollege ’n nuwe, meertalige beleid waarvolgens dosente Engels as instruksietaal gebruik (indien ’n klas veeltalig en divers is), maar ’n student kan in enige van die drie tale (Afrikaans, Xhosa en Engels) vrae stel. Voorheen het die amptelike beleid bepaal dat klasse 50% in Afrikaans en 50% in Engels aangebied sal word. Swart studente het egter gekla dat onderrig eerder 80% in Afrikaans geskied het, met net ’n kort Engelse opsomming aan die einde van ’n lesuur. Die Xhosa-studente wou dus nie langer in Afrikaans onderrig word nie, terwyl Afrikaanse studente gemeen het dit is nie Afrikaans se skuld dat swart tale se akademiese status nog onontwikkeld is nie.
Nou, ná die storm, kom klop Afrikaanssprekende ouers Darryl op die skouer. Hulle besef hul kinders se loopbaangeleenthede kan net by Engels as onderrigtaal baat vind. Daar is ook groter verdraagsaamheid tussen wit en swart studente op die kampus.
Deel van landbou-familie
“Ons sou nie transformeer in die afwesigheid van ’n krisis nie en Elsenburg sou maar net so op die ou paaie aangedwaal het. Die onrus het dit na die oppervlak, die ope, gedwing. Daar was ’n behoefte aan transformasie, ingryping en gesprekvoering. Ek sal dus die laaste een wees wat sê dit was net ’n aaklige ding.
“Ons móét die aangesig van die landbou verander. Ons kan nie grondhervormingsplanne hê wat daarop gemik is om meer swart mense te laat boer, maar dan voel hulle ongemaklik oor die opleidingsprogramme nie. Elsenburg kon nie 90% wit bly nie, nie as jy voedselsekerheid in gedagte hou nie. Ek het geen twyfel daaroor nie dat swart mense nou in ’n groter mate deel voel van die landbou en die instituut. Daar is nou ’n groter gewilligheid onder swart mense om by die landbou-familie aan te sluit.”
Skep vertroue
Darryl sê die eerste stap was om onmiddellik die hulp in te roep van mnr. Craig Arendse, ’n kundige wat gekonfyt is in konflikoplossing. Hy is verbonde aan die projek Resolve and Change Systems (RACS). “Jy moet iemand aan die voorpunt hê wat vertrou word sodat mense na hom of haar sal luister.”
Hulle het besluit om met ’n tussentydse studenteraad te werk wat werklik die rasdemografie van Elsenburg weerspieël om vertroue te help inboesem.
Studente bemagtig
“Een gemene deler onder ons almal op die kampus is dat almal óf Engels praat óf verstaan. Vanweë die behoefte aan inklusiwiteit het ons besluit om Engels as instruksietaal te gebruik, terwyl ons ook die ruimte skep vir studente om hulself in hul moedertaal uit te druk. Ons wou egter ’n omgewing skep waar studente bemagtig is om die dosent en die res van die klas te help vertaal. As iemand by magte voel om ’n ander student se vraag of antwoord te vertaal, is hy welkom. Ek moet sê die studente gebruik die geleentheid en respekteer mekaar se taal en sien dit as ’n skakel na mekaar se kultuur. Hulle besef die dryfkrag is ’n behoefte om ingesluit te voel.”
- Die volledige onderhoud met Darryl is op bl. 36 van Landbouweekblad, 1 April 2016.