
Van die wêreld se beste wyn en brandewyn kritici is vanaf 15 tot 19 September by Boland Park-krieketgronde in die Paarl bymekaar vir die beoordeling van die inskrywings vir Veritas, die langste aaneenlopende wynkompetisie in Suid-Afrika. Die kompetisie vier vanjaar sy vier-en-twintigste bestaansjaar.
Altesaam 1 767 wyne, verdeel in 18 klasse met Droë Rooi (216 wyne), Shiraz (190 wyne) en Sauvignon Blanc (189 wyne) as die drie grootste kategorieë, sal geneus, en geproe en beoordeel word deur meer as 100 beoordelaars, waarvan sewe internasionale lande verteenwoordig word waar baie Suid-Afrikaanse wyn verkoop word.
Punte word volgens die 20-puntskaal toegeken: 18 of meer wen 'n dubbelgoud; 17 punte is goud werd en 'n silwer medalje word toegeken aan 'n wyn/brandewyn met 16 punte. 'n Brons medalje gaan na 'n wyn/brandewyn met 15 punte behaal.
Die medaljewenners word op 4 Oktober by die Kaapstadse Internasionale Konferensie Sentrum (KIKS) aangekondig tydens 'n glansgeleentheid met Agri-Expo as hoofborg.
Vir meer inligting, kontak Elsabé Ferreira by 021 863 1599, faks 021 863 1552 of e-pos admin@veritas.co.za.