
Ontmoet mnr. Jaco Orsmond, sedert Mei bedryfshoof by Radium Engineering.
Jaco is ’n meganiese ingenieur en het sy kennis in Suid-Afrika, ander dele van Afrika en ook in Amerika opgedoen. Dié ervaring bring hy nou na een van Suid-Afrika se mees gerespekteerde landbou-ingenieurswerke, naamlik Radium Engineering. Jaco is nie ’n bestuurder wat net tyd in ’n kantoor deurbring nie. Trouens, sy verbintenis met die landboubedryf en Radium Engineering spesifiek is deel van sy lewensverhaal.
“Ek het meganiese ingenieurswese aan die Universiteit van Pretoria gestudeer en het in 2007 by Radium begin werk, terwyl ek besig was om my graad te voltooi. Ek het waardevolle ervaring opgedoen en was deel van verskeie belangrike projekte.
“Later het ek by die AGCO-korporasie aangesluit en my ervaring verder uitgebrei. By die AGCO was ek verantwoordelik vir ’n hele klomp projekte. Ek was onder meer die hoofprojekbestuurder vir vir die AGCO-opleidingsgerief in Zambië. Dit is die eerste internasionale opleidingsgerief in sy soort in Afrika en ook die eerste opleidingsgerief van AGCO Wes-Afrika.”
Mark vir nuwe toetreders
Jaco was ook die hoofprojekingenieur wat verantwoordelik was vir die vestiging van plaaslike vervaardiging in Suid-Afrika, soos produkontwerp en -ontwikkeling gemik op die mark vir nuwe toetreders tot die landbou en kleinboere. “Dit is vandag die grootste landboumark.”
Met al dié internasionale ondervinding op sy kerfstok het Jaco vroeër vanjaar na Radium Engineering teruggekeer. Sy betrokkenheid by die ontwikkeling van verskeie Radium-produkte in die verlede is steeds ’n aanwins.
“Terwyl ek by Radium gewerk het, en selfs daarna, was ek betrokke by verskeie projekte. Die belangrikste was die herontwerp van die Radium Power Rip Trip Assembly en om die Dual Tine Ripper se tande vanuit China te verkry. Ander groot projekte was die ontwerp van die strooier se ratkas, Radium se kombinasiemasjien en Radium se Zone Till. Ek het ook aan verskeie ontwerpe en herontwerpe gewerk om doeltreffendheid en gehalte te verbeter en vervaardigingsprosesse te optimaliseer.”
Radium Engineering hou altyd nuwe neigings op plaaslike en internasionale vlak dop. Jaco meen die grootste neigings is nou op presisieboerdery toegespits. “Dié neiging gaan vanjaar toeneem op die Suid-Afrikaanse mark en oor die volgende twee jaar sal dit sal aanhou uitbrei na die res van die mark in Afrika. Presisie in saadplasing en die toediening van plantvoeding en kunsmis sal belangriker word om grondvrugbaarheid en groter oeste te ondersteun.
Jongste tegnologie
“Dit is belangrik om die landbou met die jongste tegnologie te ondersteun, van begin tot einde.”
Die impak van presisietegnologie op Suid-Afrikaanse boere sal doeltreffendheid verbeter, groter oeste oplewer en staantyd van masjinerie verminder.
“Presisietegnologie verminder bedryfs- en onderhoudskoste en ander verliese. Dit sluit in saadverlies of ontkiemingsprobleme weens swak saadplasing of die ondoeltreffende gebruik van bemesting en plantvoeding.
Die toepassing van presisieboerdery sal boerderye winsgewender maak en die impak op die omgewing verminder,” sê Jaco. Sy raad aan boere is om die huidige tegnologie te vertrou.
Volhoubare toekoms
“Dit is ontwikkel om boere te ondersteun en boerderymetodes te verbeter. Dit geld kommersiële en ontluikende boere. Nuwe toetreders tot die landbou sal baat vind by meganisasie as hulle wil groei en ’n volhoubare toekoms as boere wil verseker.”
Radium Engineering gee die afgelope 52 jaar in Suid-Afrika die pas aan wat plaaslik vervaardigde landboumasjinerie betref. “In die volgende vyf jaar sal die klem daarop val om hierdie leidende rol te behou en om dit na die buiteland toe uit te brei. Ons wil nuwe produkte ontwikkel en die bestaande produkte verbeter. Die bekendstelling van ons bestaande tegnologie aan boere in die res van die wêreld is ons volgende stap. Radium Engineering wil eindelik ’n vennoot en denkleier wees op internasionale vlak en wil saam met sy klante werk om doeltreffender boerderymetodes te vind.”
Radium Engineering wil regstreeks in boere se behoeftes voorsien, maar ook help met diens, ondersteuning en aanbevelings om die beste moontlike resultate op die plaas te kry. Sedert sy ontstaan is klantediens die hart van Radium Engineering se sakemodel.
“Wat ons onderskei, is dat jy regstreeks met die besluitnemers praat. Ons glo in persoonlike diens en wil die beste moontlike produk teen die beste moontlik prys bied. Ons gesels graag met ons klante.”
NAVRAE: Webwerf: www.radium.co.za, tel. 012 719 9062/3.