
Anatoliese herdershonde is die enigste oplossing teen jakkalse wat kleinvee voor die voet opvreet, sê mnr. Danie le Roux, ’n Dorperboer van Montagu.
“Dis niks snaaks om twee derdes van jou lammers te verloor nie. Ek het hier ingetrek met 800 ooie. Op ’n kol het hulle my diere só opgevreet dat ek net 250 diere oorgehad het, want daar was nie vervangingsooie nie.”
Mnr. Frikkie Hugo, sy buurman, beaam dit. Hy boer met Dohne-Merino’s en het aanvanklik sy skape saans in ’n kraal gejaag. “Dit vat twee uur van jou dag, en het nie altyd gewerk nie – ’n luiperd het al ingespring en toe lê daar nege dood. Jakkalse begin ook in die dag vang, sommer groot skape – daar lê net vel en rugstring soos hulle die ooi opgevreet het.”
“Ek het 28 jaar lank alles probeer, maar sonder sukses,” sê Danie. “Jy sal jakkalse vrekskiet tot jy die dag dood is.”
Gedugte veewagters
Danie was agt jaar gelede op die punt om uit desperaatheid na Angus-beeste oor te skakel toe hy Anatoliese herdershonde as veewagters op die proef gestel het.
Dié honde het ’n ingebore instink om diere op te pas en sal hul trop met hul lewe verdedig.
“Die eerste ding wat ek nou soek as ek by die trop aankom, is my hond,” sê Danie. “As ek weet die hond is daar, hoef ek amper nie eens die lammers te tel nie.
“Dit is ongelooflik wat hulle kan uitrig. Hulle is drie keer die jakkals se grootte. Jy het dus ’n natuurlike vyand in die veld gesit, een wat jy kan bestuur.
“Ek het een oggend ’n jakkals in ’n vanghok gekry en besluit: Jou bogger, kom ons kyk wat maak die honde met jou. Ek los die hok 200 m van ’n reun af oop. Daardie hond kom reguit op die jakkals afgestorm. Een hap – morsdood.”
Op Danie se aanbeveling het Frikkie in 2013 sy eerste hond gekry. “Hy het my in die beginstadium twee, drie keer ’n dag gebel – die hond doen dit, wat moet ek maak? Dan sê ek vir hom, hou maar net moed. Gee die hond ’n kans, dit sal regkom.”
Sedert Frikkie die honde gekry het, het sy lampersentasie van 70 tot 120 verbeter. Hy het tans drie herdershonde, wat al met alles van ’n bobbejaan tot ’n luiperd deurmekaar was.
“As ’n hond nie vir ’n bobbejaan bang is nie, kan ’n luiperd loop bars,” sê Danie. " ’n Luiperd druk sy gat in ’n bos en probeer die honde met sy kloue weghou, maar ’n bobbejaan vat agter en voor.
“Jy sal jouself met stelery ook vieslik vasloop. Ek het self al geskrik – skielik staan daar ’n hond tussen die skape op en storm op jou af. Dis ’n groot afskrikmiddel.”
’n Boer het al gebel en vertel hoe hy ’n pap wiel langs Danie se skaapkamp gekry het en maar moes aanry, want die hond het hom nie laat uitklim nie.
Buurplaas-buffers
Vyf plase in die omgewing maak nou op honde staat om hul kleinvee op te pas. “As almal in die omgewing honde het, is dit tot elkeen se voordeel,” verduidelik Danie.
’n Goeie verhouding met jou buurman is deurslaggewend, sê Danie. “Baie ouens het al tophonde verloor wat deur hul buurman geskiet is. Intussen was die hond agter ’n jakkals aan.”
“Die hond dryf jakkalse en ongediertes uit die kamp en maak dan ’n ál wyer gebied skoon. Hy gaan na waar die moeilikheid is, veral as sy kamp skoon is.
“Dis wanneer Frikkie se honde soms na my plaas toe deurkom. Ek boer met Dorpers, en hy met Dohne-Merino’s, maar ons het nog nooit probleme gehad met honde wat die vreemde skape vang nie. Môre is hy weer terug na die ander trop.”
Jakkalsslim
’n Jong hond word soms deur jakkalse uitoorlê, sê Frikkie, maar moenie te gou tou opgooi nie. “Die jakkals weet – dié hond het nog nie breins nie. Die oumense sê altyd ’n jakkals is so slim, hy kan lees én skryf.”
’n Hond sal op agt maande jakkalse verwilder, en op ’n jaar beslis jakkalse begin vang en vrekmaak. Op 18 maande is hy jakkalsslim.
Dit is belangrik om nie ’n jong hond aan sy eie genade oor te laat nie. As ’n trop met lammers na ’n nuwe kamp moet skuif, is dit ’n goeie plan om eers ’n groter, ouer hond met ’n klein trop gusooie in te trek. Dié hond kry dan kans om die kamp skoon te maak voordat die lammers inkom.
Rooikatte kan jong honde soms uitoorlê omdat hulle stilletjies nader kruip en die lam met die eerste hap doodbyt. Rooikatte kan egter doeltreffend met vanghokke bestry word. Mettertyd sal die hond, soos hy ouer word, ook jag maak op rooikatte, veral as hy sy eerste een gevang het. Frikkie het al twee rooikatkarkasse opgetel.
“As daar ’n jakkals is wat aanhou vang terwyl daar ’n hond in die kamp is, is dit raadsaam om die skape te skuif of ’n week of wat ’n ander of tweede hond in te bring. Die jakkals sal hom mettertyd vasloop as sy vlugroete versteur word,” sê Danie.
Navrae: Mnr. Danie le Roux, epos info@karooadventures.co.za.