
Die bekendstelling van ’n Kode van Praktyk vir melkproduksie deur die plaaslike suiwelbedryf is ’n stap wat uitvoere van suiwelprodukte kan bevorder. Die dokument is Dinsdag 12 November in Centurion aan rolspelers in die bedryf en die media bekend gestel.
Mnr. Jompie Burger, besturende direkteur van die Suiwel Standaard Agentskap (SSA), sê die dokument “is ’n gesamentlike poging deur die bedryf en rolspelers om standaarde te bepaal wat hoër is as dit wat wettiglik verwag word. Dit brei die bedryf se selfregulerende bedrywighede verder uit.”
Voordeel vir uitvoere
Mnr. De Wet Jonker, bedryfsekonoom van die Suid-Afrikaanse Melkverwerkersorganisasie, sê die dokument sal die bedryf bystaan wat uitvoere in die toekoms betref. Tans word die meeste van die land se melk na ander Afrika-lande uitgevoer, maar hy meen moontlikhede vir wyer uitvoere is groot.
Burger sê die dokument fokus op verskillende areas van produksie, maar dit begin op plaasvlak met algemene voorskrifte vir melkproduksie. “Ons sal graag wil sien dat die bedryf die dokument omarm. Vanweë dié rede gaan ons dit ook gratis aan produsente beskikbaar stel.”
Die SSA is nou besig om ’n soortgelyke Kode van Praktyk vir die land se sekondêre suiwelbedryf saam te stel. ’n PDF van die gratis Kode van Praktyk is op Landbou.com beskikbaar.