
Die Internasionale Federasie van Landbouprodusente (IFLP) het ’n konsepdokument saamgestel oor bedryfstandaarde wat met dieregesondheid verband hou.
In die afgelope jare het boere en verbruikers aandag begin gee aan die uitwerking van bedryfstandaarde wat deur die voedselproduksiebedryf en handelaars gestel word om goeie landboupraktyke te verseker.
Bedryfstandaarde word by die verskillende fases van die voedselketting gestel – vanaf die plaas tot by die verwerkingsproses. Bedryfstandaarde kan bydra tot beter toepassing van huidige amptelike standaarde en ook tot die implementering in gebiede waar internasionale standaarde nog nie toegepas word nie.
Die IFLP boere het die volgende aanduidings gegee:
• Bedryfstandaarde mag nie verskil van die internasionaal erkende en wetenskaplike standaarde van dieregesondheid soos deur die internasionale organisasie vir dieregesondheid (OIE) opgestel is nie. Die amptelike standaarde behoort eerbiedig te word om ’n minimum en eenvormige vlak van gesondheid daar te stel vir diere wat vir voedselproduksie geteel word.
• Die IFLP ondersteun die debat oor bedryfstandaarde en moedig regerings en internasionale organisasies aan om oplossings te vind sodat produkte van volhoubare boerderypraktyke altyd toegang tot markte sal hê.
• Dieregesondheid is primêr die funksie van die boer en daarom behoort hy/sy ’n regverdige deel van die prys te kry vir sy/haar moeite om aan standaarde vir dieregesondheid te voldoen.
• Dit is belangrik dat boere altyd betrokke sal wees in die samestelling van bedryfstandaarde vir dieregesondheid.
• Alle private koalisies en voedselkettings moet voldoende deursigtigheid aan die dag lê sodat regerings en internasionale organisasies seker kan maak dat bedryfstandaarde aan internasionale norme voldoen.
• Kleiner boere van ontwikkelende lande moet steun en finansiële hulp ontvang om aan die standaarde te voldoen.
Lees meer in Landbouweekblad se uitgawe van 4 Desember 2009.
30 November 2009