
Die gewasbeskermingsorganisasie CropLife Suid-Afrika moedig boere aan om opplossings te soek wat die minimum skade aan die omgewing sal verrig wanneer dit kom by die beheer van kommandowurms.
Kommandowurms het verlede jaar in een van die grootste uitbrekings in dertig jaar in Suid-Afrika voorgekom en nuwe uitbrekings is onlangs in Windsorton-Majeng en Potchefstroom in die Noordwes en ook rondom Letsetele in die Limpopo-provinsie gerapporteer. 'n Toename hiervan word verwag soos wat die weersomstandighede gunstig raak vir die eiers om uit te broei.
Die wurms vertoon amper swart van kleur met 'n groen streep op die rug oor die lengte van die lyf. Hulle is ongeveer 30 mm lank en kom in groot getalle voor.
Volgens Croplife is dit wesenlik om kommandowurms onmiddellik te beheer as die moontlikheid bestaan dat hulle onder kontantgewasse, veral onder besproeiing, kan invaar en skade aanrig. Produsente word dus aangemoedig om hul mede-produsente en plaaslike landbouverenigings so gou as moontlik van uitbrekings in te lig. In veldtoestande moet produsente egter probeer om saam met voëls die bevolkings onder beheer te bring. Kleiner uitbrekings moet ook liefs aan voëls en ander wilde diere oorgelaat word.
Geregistreerde middels
Slegs middels wat geregistreer is vir die beheer van kommandowurms moet gebruik word. 'n Lys van geregistreerde middels kan op Crop Life South Africa (CLSA) se webwerf gekry word. Tik “army worm” in by die soekfunksie om 'n lys van middels te kry. Kyk veral onder “veld and grazing”en “pastures”vir toepaslike produkte. Lugbespuiting mag ook net gedoen word met middels wat daarvoor geregistreer is.
CropLife vra ook dat produsente middels wat skadelik vir voëls en reptiele is, vermy. Die peritroiede is oor die algemeen beskikbaar, sal die wurms onder beheer bring en feitlik geen skade aan dierelewe aanrig nie. Moet dit net nie naby water spuit nie, omdat peritroiede uiters skadelik vir paddas en vis is.
Neem ook kennis van die onttrekkingsperiodes van die onderskeie landboumiddels wat vir kommandowurmbeheer geregistreer is. Indien sulke middels aangewend word, moet vee uit die area verwyder word tot en met die ontrekkingsperiode verby is. Dit is dus ook wenslik om slegs kolle waar die wurms voorkom, te behandel en nie totale weidingsgebiede nie.
Vir meer inligting oor middels wat die wurms kan beheer met die minimum impak op die omgewing, skakel Die Griffon-gifinligtingsentrum by 082 446 8946.