Die sagtevrugte-inmaakmaatskappy Cirio Del Monte - wie se moedermaatskappy in Italië ernstige finansiële probleme het - wil plaaslik kredietwaarborge kry. Die moontlikheid word oorweeg om voorraad as waarborg daarvoor aan te bied, sê mnr. Wiehahn Victor, hoofbestuurder van die Inmaakvrugte-produsentevereniging (IPV).
Cirio Del Monte, deel van die Italiaanse maatskappy Cirio, se toekoms het onlangs in die weegskaal gekom ná dit bekend geword het dat die moedermaatskappy in 'n ernstige finansiële verknorsing sit. Cirio se probleme het begin ná hy 'n wanbetaling op 'n tweejaar-effek van 150 miljoen euro gedoen het.
Dit het groot kommer laat ontstaan onder die sowat 500 plaaslike vrugte- en aspersieboeree wat leweringsooreenkomste en kontrakte met Cirio Del Monte het. Daar is gevrees dat die maatskappy sy fabrieke op Tulbagh en Bethlehem kan sluit.
Mnr. Victor sê ná 'n onlangse vergadering lyk die prentjie nie meer so duister nie. Daar word gekyk na plaaslike kredietwaarborge wat aan die fabrieke in Suid-Afrika sekuriteit sal gee. Verskillende opsies word oorweeg.
Die gedagte is dat die voorrade in die fabrieke as kredietwaarborge aangebied word. 'n Probleem is egter dat wanneer vrugte in 'n inmaakproses geblik word, dit as't ware "identiteitsloos" word. Dit kan die aanbieding van só 'n waarborg bemoeilik.
Daar word weekliks vergader om die situasie te bespreek en belanghebbendes word daagliks op hoogte gehou, sê hy.
Alles by die fabriek op Tulbagh verloop normaal, hoewel sowat 20 % minder appelkose ingeneem is. Dit is omdat die oes vanjaar kleiner as gewoonlik is en omdat van die boere reeds aan ander fabrieke begin lewer het ná die probleme rugbaar geword het. Sowat 'n derde van die plaaslike inmaakvrugte word aan Cirio Del Monte gelewer.
Die probleem het vererger toe die moedermaatskappy die laaste paar weke in gebreke gebly het om ses effekte van sowat 'n miljard euro terug te betaal. Volgens kredietbanke moes Cirio dadelik sowat 50 miljoen euro betaal om die beleërde maatskappy aan die gang te hou.
'n Raadgewer is aangestel wat 'n herstruktureringsplan opgestel het. Dié plan is aan krediteurbanke voorgelê. Die detail hiervan is egter nog nie bekend nie.
20 Desember 2002