
Ons het op ons Facebook-blad gevra dat mense vir ons byname aanstuur wat vir hulle kostelik is. Hier is van die antwoorde:
Barries Snijman skryf: Sakkie die bankbestuurder: "Banksakkie"
Tolla Prinsloo sê: Baie Piete op die dorp. Piet Bande. Vanselfsprekend. Piet Kouevleis - begrafnisondernemer.
Willem Steenkamp: Spook Jan Tieties – hy boer bo op die Pramberge.
Danie van Zyl: Hier by ons is Jan, hy moes in die bank vorms gaan invul. By die spasie vir jou volle naam, skryf hy toe net Jan. Die klerk sê toe: “Jan skryf voluit”. Daar skryf hy toe Jan Voluit en nou is hy Jan Voluit.
Lillian van den Berg: Tannie Portret en haar kiekies (kinders).
Sue Visser: In Koringberg-distrik, Swartland, was daar Hennie Kop (daar was 'n koppie op sy plaas).
Elizabeth Johl: My man se een oupa was Willem Lorrie (eerste vragmotor gehad op Gansbaai).
Chris Van Wijk: Oom Jan Windpomp en sy twee seuns: Lang Pomp en Kort Pomp.
Jan-Hendrik Van Wyk Opperman: By Gobabis noem hulle die mense maar saam met hulle plaasname. Soos "Jannie Harlem". My oupa was bietjie kwaai, toe is hy Rooi.
Niel Schreuder: Piet Pensveer, Koos Olievoete, Jan Keteltuit, Gert Rondomlelik.
Ronel Human Nel: Ons het 'n paar Piete in Bethal, Piet Bom (het by AECI gewerk), Piet Pruik, Piet Skiet, Piet Pomp, Gert Grootlieg, Kerneels Hond, Koos Bus, en Wit Willie.
Paul 'Polla' Snyman: Die veearts op die dorp is "Hennie Hond". Manie wat die Nando's besit, is "Die Hoener".
Dudley Cato: Ons buurman het kreupel geloop agv 'n motorongeluk, toe kry hy die naam Piet-trap-innie-gaatjie...
Attie Thomas: Jan Hond, Mollie Hond, Andre Meelslang Koch, Byle Engelbrecht, Boetie Ponde, Danie Mop, Pieter Nagaap.
Lillian van den Berg: Tannie Portret en haar kiekies(kinders)
Elizabeth Johl: My man se een oupa was Willem Lorrie (eerste vragmotor gehad op Gansbaai)
Charmaine Britz Wiid: Op Landbouskool was my kinders se byname, Dairybell, Merino, Dorper.
Mandie Duvenage Dippenaar: 'n Baie goeie vriend van ons het die gewoonte om laataand perongeluks 'n uiltjie te knip in die badkamer... Toe doop ons hom Porselein-ponie.
Riaan Joubert: Daar was 'n voorman, Jan Skoene, altyd besig met 'n lappie, en Sterrekyker – die ou het baie opgewonde geraak en sy oë altyd opwaarts geslaan.
Marina Emoo Roets: Iemand wat ek jare terug voor gewerk het, het 'n liefde gehad vir Cowboyboots en Denims. Toe doop die manne hom Plestiek Cowboy.
Marilete Britz: Vet Sprinkaan... ek is oorgewig. Maar ek het hoogspring en verspring gedoen. So het die bynaam maar gekom. En tot vandag toe noem my pa my nog so.
Arthur Andrew Koenig: Op Darling het ons vir oom Boetie bus, Andre kraai, John muis.
Wikus Van Der Merwe: Oom wat baie plooie gehad het se bynaam was Crinkle Cut.
Rita Annandale: Op die plaas was daar 3 Johannes'e. Een was Johannes die bouer. Een se hut het tussen die berge gestaan....hy was Van der Berg...en Johannes Trekker.
Jacque Oberholzer: Die oom wat altyd baie spek kon skiet was "Piet Spaar die Waarheid" genoem.
Judith Swanepoel: Oom Koos Kis, die begrafnis-ondernemer.
Lanie Van Heerden: Viktor Jan Wurm...beskrywing van selfsprekend sy besigheid bestaan vandag nog onder dieselfde naam.
Anet Roux: Ben Bus, hy het een aand van 'n partytjie af gekom en toe hy by die T-aansluiting in die pad kom, het hy sy flikkerlig aangesit en by die “bus” verby gegaan. Nodeloos om te sê hy is later in die sloot gekry.
Derick Maree: Jannie Jakkalsdraffie was altyd haastig en Pietdief het alles by mekaar gemaak.
En laastens: Bennie Rossouw Conradie: Die boetebos-inspekteur op Richmond, Karoo doen inspeksie te perd op boer se plaas en maak sy perd vas aan die naaste bos toe hy boer besoek. Boer vra wat doel van sy besoek was en hy meld die inspeksiedoel. Boer verontwaardig en meld dat daar geen boetebos op sy plaas voorkom nie en die ou vertrek.... maar hy het sy perd vasgemaak aan boetebos. Ken nie sy regte naam maar as Boetebos is hy dood.