
Voëlkundiges is bekommerd dat witborskraaie met hul toenemend sterk bevolkingsgroei ander roofvoëls verdring en die voortbestaan van prooi-soorte, soos skilpaaie, bedreig.
Pasgebore lammers en selfs groot ooie waarvan die oë deur dié aggressiewe en opportunistiese jagters en aasdiere uitgepik word, raak ook ’n al hoe groter probleem.
Die skaapboer mnr. Manie Louw het vroeër vanjaar aan die nuuswebwerf GroundUp.org vertel hoe hy op sy plaas by Paternoster binne net drie maande 21 ooie en oor die 30 lammers moes keel-afsny omdat kraaie hul oogballe uitgepik het.
Hy het al gesien hoe die voëls oomblikke nadat ’n lam gebore is, toeslaan en aan die lammers begin pik terwyl hulle nog nat is en nie kan staan nie. Ander kere het hy volwasse slagoffer-skape blind en dronkweg oor die veld sien dwaal, met bloed wat oor hul gesig stroom.
’n Groep onder die leiding van dr. John Fincham, afgetrede veearts en gereelde bydraer tot die Suider-Afrikaanse Voëlatlasprojek (Sabap), skryf in ’n nuwe artikel in die aanlyn- vaktydskrif Ornithological Observations oor hul tellings van witborskraaie en ander roofvoëls oor groot dele van die land in die ses jaar sedert 2009.
Kraaigetalle het in ál ses jare die totale getal van alle ander roofvoëls oorskry. En elke jaar was die gaping tussen dié twee syfers al hoe groter.
Daar was groot tot massiewe toenames in witborskraaibevolkings in die grootste deel van die land, wys hul syfers. Dit sluit in die hele Gauteng, die Wes- en die Oos-Kaap, ’n groot deel van die Noord-Kaap, Noordwes en die westelike dele van die Vrystaat. Die Karoo, met sy lae reënval en oorwegend veeboerdery, vorm ’n groot sentrale deel van hierdie gebied.
In teenstelling met die skerp toename in kraaigetalle wys die tellings dat talle ander roofvoëls ál skaarser word. Dié wat die ergste getref is, is die groot arende wat gebiedsgebonde is en nie meer in groot dele van hul voormalige verspreidingsgebied voorkom nie. Aasvoëlbevolkings neem reeds regoor Afrika skerp af, skryf John en sy kollegas.
“Die witborskraai is ’n robuuste en veelsydige spesie wat oor groot dele in die hele Afrika suid van die Sahara by die klimaat en habitat aangepas het – vanaf ekwatoriale streke met hoë reënval tot droë woestyne.”
Die kraaie se sterk bevolkingsgroei word toegeskryf aan talle nuwe voedsel- en vogbronne wat oor die jare vir hulle beskikbaar geraak het, onder meer weens verstedeliking en boerdery-uitbreiding. Dit sluit in die plasentas en karkasse van skape en bokke, doodgebore of swak lammers, turksvye, padkarkasse en permanente veesuipings in voorheen droë halfwoestyne.
Telefoon- en kragpale, windpompe, geboue en uitheemse bome het weer vir nuwe nesmaakplek gesorg.
Die navorsers is ernstig bekommerd oor die bedreiging wat die groot witborskraaigetalle vir skilpaaie kan inhou. Een ondersoek het gewys dat een paar kraai-ouers minstens 315 klein rooipensskilpadjies vrekgemaak het om ’n broeisel van vier kuikens groot te maak, en dit in ’n halfwoestyngebied.
* Volledige artikel in Landbouweekblad van 15 Januarie 2016.