
Die splinternuwe Toyota C-HR staan redelik hoog van die grond af, sy daklynhoogte is so min of meer dieselfde as dié van ander sportnutssedans en sy futuristiese bakontwerp sal beslis raakgesien word in enige koöperasie of winkelsentrum se parkeerruimte.
Toyota sê hy rig sy C-HR op die jonger geslag, die sogenaamde Millenials wat deur emosionele oorwegings aangevuur word, wat streef na individualiteit, wat eerste met alles móét wees èn wat ’n voertuig as ’n verlenging van hul persoonlikheid sien.
Vir vele sal dit bloot lyk asof Toyota nou sy eie Juke (Nissan) het. Met ’n bietjie verbeelding kan die evolusielyn van die nuweling dalk gaan haal word by die Prius, die 86 (Toyota/Subaru) en die FJ Cruiser. Die marksegment vir klein- tot mediumgrootte sportnutsvoertuie groei die vinnigste. Dit het gelei tot die sogenaamde “cross over”-, kruisvoertuig- of in boereataal sommer kruisgeteelde voertuie.
Die C-HR is ’n versmelting van die luikrug- en sportnutsontwerpe om ’n voertuig vir die moderne stedelike jong lewenstyl te skep. Die bakontwerp het interessante snyvlakke en kantpanele wat agter al te sportief na die C-pilaar opswiep. Terloops, die agterste deurhandvatsels word vir ’n sportiewe voorkoms netjies in die ontwerp verbloem.
’n Aangename verrassing wag wanneer jy agter die stuurwiel inskuif. Nie net bied die ten volle verstelbare sitplek goeie ondersteuning nie, maar die plasing van die kontroles en instrumente is ergonomies suksesvol rondom die bestuurder geplaas. Wanneer ’n sesvoeter egter agter die stuur sit, is die beenruimte vir die agterste passasier taamlik beperk.
Ongelukkig is dit ook juis die besondere koepee-bakontwerp wat sig agtertoe beperk en die agterste passasiers se uitsig is slegs tot skuins na voor beperk. Dit is nie ’n plek vir mense met engtevrees nie…
Drie modelle is beskikbaar en al drie word deur dieselfde 1.2 liter turbo-petrolenjin aangedryf. Hierdie enjin spog met Toyota se D4-T direkte inspuitstelsel, ’n hoë drukverhouding, veranderlike kleptydreëling (VVT-iW), ’n watervekoelde turbo-aanjaer en ’n hitteruiler. Die enjin lewer 85 kW drywing en 185 Nm se wringkrag.
Die intreevlakmodel het 17 duim staalwielvellings terwyl die twee Plus-weergawes op 17 duim allooiwielvellings rol. Kopers van die Plus-modelle kan kies tussen ’n sesgang-handratkas of ’n palwisselratkas (CVT). Hoewel die C-HR met ’n grondvryhoogte van 160 mm nie vir grondpaaie sal skrik nie, is sy bagasieruimte van 377 liter aan die klein kant. Dit is wel net-net groter as die 354 liter van die Juke. Daar sal dus nie veel meer as ’n sak hoenderkos òf die kinders se koshuis- en skooltasse inpas nie.
Die C-HR word gebou op Toyota se nuwe TNGA-onderstel met beproefde MacPherson-strutte voor en dubbele mikvere agter. Die pryse strek van R318 500 tot R356 000 (BTW ingesluit). Daar is ’n diensplan van 5 jaar of 90 000 km, ’n 3 jaar/100 000 km-waarborg en die diensintervalle is 15 000 km.