
Baanbrekerswerk om kurkproppe vir wynbottels een-een te ontleed en TCA-vry te maak, word binnekort by die Portugese kurkmaatskappy Amorim bekend gestel.
TCA is die algemene afkorting vir die chemiese samestelling wat bysmake in wyn veroorsaak. Kurkproppe kry dikwels die skuld vir dié bysmake, wat onder meer ook deur anisole in hout en water oorgedra kan word. Gevolglik het skroefproppe en sintetiese sluitings gewild geword, hoewel premiumwyn wêreldwyd steeds eerder met kurk gesluit word, want dit speel ’n rol in wynontwikkeling. Wyn met TCA-besmetting word tipies as “gekurk” beskryf.
Die maatskappy doen reeds verskeie stappe om TCA-besmetting met tot 95% te verminder. “Ten spyte van dié maatreëls vind ons steeds soms ’n paar lukrake, natuurlike kurkproppe met hoë vlakke van besmetting. Een metode van ekstraksie is dus nie goed genoeg vir alle kurkproppe nie, daarom meen ons individuele kurkontleding is die antwoord,” het dr. Miguel Cabral, direkteur van navorsing en ontwikkeling by Amorim, aan Landbouweekblad gesê.
Die maatskappy bestee jaarliks sowat 6 miljoen euro (sowat R90 miljoen) aan navorsing en ontwikkeling in ’n poging om sintetiese wynsluitings te beveg. Met die MDI-masjien vir individuele kurkontleding word die kurke afsonderlik vir TCA getoets. Op die oomblik duur dit sowat 20 sekondes per kurk, wat ’n allemintige verbetering is op die 14 minute van voorheen.
Die maatskappy kan dus 1,5 miljoen kurkproppe per jaar toets. Amorim vervaardig jaarliks meer as 4 miljard kurkproppe, waarvan 600 miljoen van natuurlike kurk is. Die volgende stap sal hulle in staat stel om binne 12 sekondes uiters lae vlakke van TCA op te spoor. Met dié prototipe-masjien wil die maatskappy teen Maart volgende jaar 10 miljoen kurkproppe ontleed. Daarna word die masjien verbeter om 90 miljoen kurkproppe per jaar te toets. Die wynlandgoed Chateau Margaux in Bordeaux, Frankryk, laat deesdae ál sy kurkproppe op dié manier toets, al beteken dit hul kurkrekening is sowat 20% duurder.
“Hoewel mense uiters krities teenoor kurk staan, sien hulle ons vooruitgang raak,” het mnr. Carlos de Jesus, Amorim se bemarkingsdirekteur, met verwysing na uitsprake deur gesaghebbende wynkritici, soos Jancis Robinson en Robert Parker, gesê.
Byskrif: Individuele kurkontledings gee wynmakers gemoedsrus dat TCA-besmetting in wyn nie van kurkproppe afkomstig is nie. (Klik net op die foto om te vergroot.)