
Kuilvoer word by meer as 70% voerkrale en melkplase as 'n goedkoop energie- en ruvoerbron gebruik. Om die beste kwaliteit kuilvoer te maak, moet daar egter baie goeie bestuur toegepas word met die inkuilingsproses.
Inkuilingsproses:
Die inkuilingsproses preserveer die voergewas se voedingswaarde en verseker dat daar in die wintermaande voldoende voedsel vir die diere is om te vreet. Goeie kuilvoer behoort 'n ligte groen kleur en 'n aangename, effense suur, vrugtige geur te hê. Al is baie gewasse geskik vir die maak van kuilvoer, gebruik die meerderheid boere die mielieplant.
Tydens inkuiling word die suikers wat in die plante teenwoordig is na melksuur omgeskakel. Dit dien dan as preserveermiddel. Inkuiling is 'n fermentasieproses wat in 'n anaërobiese (suurstof-arm) omgewing plaasvind en dus moet die bunker waarin die kuilvoer gemaak word, lugdig verseël word. Die optimale pH van kuilvoer is tussen 3,8 en 4. Voldoende suiker en melksuurbakterieë is nodig om te verseker dat die pH die regte waarde bereik. Indien die pH net tot 4,8 daal en die voginhoud 75% of hoër is, sal bottersuur gevorm word wat die smaaklikheid van die kuilvoer baie sal benadeel. Dié verlaagde smaaklikheid lei tot verlaagde innames en laer melk- en vleisproduksie. 'n pH van 5 en meer sal die fermentasieproses nie genoegsaam stop nie en verrotting van die plantmateriaal sal voorkom. Om die beste kwaliteit kuilvoer te maak, moet die inkuilingsproses nie meer as drie tot vier dae per bunker duur nie.
Die teenwoordigheid van mikro-organismes, wat grootliks te wyte is aan besmetting tydens die inkuilingsproses, kan veroorsaak dat skadelike mikotoksien vervaardig word wat giftig kan wees vir die diere. Om besmetting met mikro-organismes te beperk, moet grond of modder in die kuilvoer ten alle koste vermy word. Plantmateriaal kan ook hoër van die grond af gesny word om besmetting te beperk.
Wanneer om te sny:
Die korrekte groeistadium van die gewas verseker voldoende suiker vir fermentasie en voldoende vog vir kompaksie. Die ideale tyd om te sny word deur die groeistadium van die gewas bepaal, maar oor die algemeen is dit wanneer die gewas:
* Fisiologies ryp is.
* Genoeg suikers en vog bevat.
* Uit ongeveer 32% tot 36% droëmateriaal bestaan.
Wanneer mielies gebruik word, word die melklyn-metode gebruik om te bepaal of die gewas in die regte stadium is vir inkuiling. Die melklyn is die oorgangsfase tussen die vloeistof en die soliede gedeelte van die mieliepit. 'n Goeie tyd om te begin sny is wanneer die melklyn sowat halfpad tot twee-derdes afbeweeg het.
Kerflengte:
Die optimale kerflengte van die plantmateriaal is ongeveer 6 mm tot 12 mm. Wanneer die kerflengte te lank is, maak dit kompaksie moeilik en suurstof sal dan in die kuilvoer vasgevang word, wat 'n laer kwaliteit eindproduk tot gevolg sal hê. Dit veroorsaak ook moeilike uithaal van die kuilvoer uit die bunker en baie vermorsing kan voorkom.
Kompaktering:
Die kompaksie van die gesnyde kuilvoer is een van die belangrikste komponente wat die kwaliteit van die eindproduk bepaal. Genoegsame kompaksie dryf al die suurstof uit die kuilvoer, wat 'n anaërobiese omgewing bied vir die omskakeling van die suikers in die plantmateriaal na melksuur. Die kuilvoer moet baie goed gekompakteer word met 'n skoon trekker wat tydens die proses nooit die kuilvoer-area verlaat nie. Voordat die kuilvoermateriaal gestoor word, moet die kuilvoerbunker skoon- en drooggemaak word. Die bunker moet met dik plastiek of seil wat ten minste 150 mikron dik is, verseël word. Wit plastiek is beter as swart plastiek, aangesien dit sonlig weerkaats en die kuilvoer koeler hou. Plastiek met meer as een laag bied ook beter beskerming. Die plastiek moet as lug- en waterdig gesertifiseer wees om die beste resultate te lewer. Waar plastieklae moet oorvleuel, moet die lasplek ten minste oor een meter strek. Pak die plastiek met ‘n laag sand of ou motorbande vas, sodat die wind nie die plastieklaag kan oplig of versteur nie. ‘n Bykomende bedekking met skadunet bied ekstra beskerming teen klein diertjies en voëls wat die plastiek stukkend mag byt of pik.
Uithaalproses:
Ongeveer 45 tot 50 dae na inkuiling, behoort die pH 3,8 tot 4 te wees en is die kuilvoer stabiel. Die plantmateriaal is dan genoeg gepreserveer. Die bunker moet só uitgelê word dat daar teen ‘n minimum tempo van ongeveer 1,5 m per week deur die kuilvoerbunker beweeg word. 'n Lang, smal bunker sal beter kwaliteit kuilvoer tot gevolg hê. Die rede hiervoor is dat daar vinniger deur die bunker beweeg word tydens die uithaalproses. 'n Kleiner persentasie voer sal dus in enige stadium blootgestel word aan suurstof wat verrotting kan veroorsaak.
*Geskryf deur Chris van Gerve, NWK Landboubestuursdienste. Tel.: 073 927 8409 of chris@nwk.co.za.
Bronnelys:
Bohlman L, 2012. Die kuns van kuilvoer maak. Beskikbaar by http://www.agriconnect.co.za/dairy/the-dairy-mail/dairy-knowledge-library/dairy-knowledge-library-management/142-die-kuns-van-kuilvoermaak.html (Toeganklik 1 Julie 2015).
Lingnau A, 2014. Basiese kuilvoerbeginsels. Beskikbaar by http://www.deheus.co.za/za/knowledgebase/besonderhede/8/basiese-kuilvoer-beginsels (Toeganklik 1 Julie 2015).
http://www.hansonsilo.com/silage-packer.php.
http://www.ipstretch.com/images/Rangitikei-20130311-00026.jpg.
http://upload.wikimedia.org/wikipedia/commons/7/78/Maissilage_Zeilitzheim_1.jpg.