
Die plaaslike kwartelbedryf toon potensiaal, maar is tans nog klein, sê mnr. Pieter de Jager, ’n kwartelboer van Kleinplaas, Albertinia.
Die kwartelbedryf in Suid-Afrika bestaan uit twee kategorieë: Sierkwartels en kwartels vir kommersiële doeleindes. Die algemeenste kwartel wat wêreldwyd kommersieel gebruik word, is die Japannese kwartel. Vleisproduksie beloop nagenoeg 50 ton per jaar. Wat waardetoevoeging betref, word vleis ontbeen en soms met vulsels gestop. Produsentepryse wissel na gelang van die waarde wat tot die vleis toegevoeg word en beloop tussen R80/kg en R180/kg. Die mark vir vleis is grootliks gerig op toerisme en duurder restaurante en hotelle.
Pekeleierproduksie is meer algemeen as vleisproduksie omdat eiers makliker bemark kan word en ook ’n lang raklewe het. Die mark vir vars eiers is egter beperk weens die uitdagings rakende verpakking en verspreiding. Eiers word gebruik as peuselhappies in slaaie, asook vir garnering. “Verbruikers kan sowat R35 per flessie vir pekeleiers opdok.”
“ ’n Uitvoermark bestaan wel, maar die Suid-Afrikaanse bedryf is te klein om internasionaal mee te ding. Die mark is ook feitlik onaktief weens verskeie reëls en regulasies.”