
Aandeelhouers in KWV Beleggings en KWV Beperk het vandeesweek beide maatskappye se naamsveranderings goedgekeur as deel van dié groep se ontknopingsproses. Die eersgenoemde, wat op die JSE genoteer is, se naam sal nou Capevin Beleggings wees en sal sy bate in die Distell Groep behou.
KWV Beperk, wat die maatskappy se bedryfsbesighede en beleggings gehou het, sal nou as Capevin Beherend bekend staan. ‘n Nuwe maatskappy, KWV Beherend, sal nou “onafhanklik optree tot die beleggingsaktiwiteite wat voorheen deel uitgemaak het van die groep se kernbesigheid”, luidens ‘n mediaverklaring.
Al KWV se handelsmerke, eiendomme en bedryfsbates sal na KWV Beherend oorgedra word. KWV-aandeelhouers sal nou twee verskillende aandele besit – een in KWV Beherend en een in Capevin Beherend – wat waarde ontsluit. Hulle ontvang nou dividende uit beide maatskappye.
17 Julie 2009