
Ekonome verwag dat die vervaardigingsektor eers oor die volgende twee of drie jaar ten volle van die wêreldwye ekonomiese krisis sal herstel. Mnr. John Purchase, hoofbestuurder van die Landboubesigheidskamer, sê ná vervaardigingsyfers vir die derde kwartaal vanjaar verbeter het, verwag hulle verdere gunstige groei in die vierde kwartaal.
Hy sê die vervaardiging van landbouprodukte het effens gedaal, maar dit vorm deel van die indeks wat onelasties is. Dit beteken produksie het nie so dramaties soos in byvoorbeeld die motorvervaardigingsektor afgeneem nie, derhalwe is daar nie drastiese verbeterings nodig nie. Syfers vir die vierde kwartaal sal beter lyk, veral vanweë hoër verwagte verkope tydens die feestyd.
Statistieke SA het vroeër vandag bekend gemaak dat die vervaardigingsektor in die derde kwartaal met 1,6 % gegroei het. Luidens ’n verklaring het ses van die tien vervaardigingsbedrywe dié gunstige groei getoon. Die grootste dryfvere agter die styging was die staal-, petroleum-, motor- en meubelvervaardigingsbedrywe. Produksiesyfers vir voedsel-, tekstiel- en houtprodukte en elektroniese ware het egter afgeneem.
Die vervaardigingsindeksyfers vir Oktober vanjaar was die hoogste in die afgelope jaar, maar 9,3% laer as in Oktober verlede jaar. Dit is die kleinste maand tot maand daling wat tot dusver vir die jaar aangeteken is.
Intussen sê Purchase die syfers is ’n aanduiding dat die negatiewe groei in die vervaardigingsektor ’n draaipunt bereik het en dat die ekonomie besig is om te herstel, hoewel die herstel lank sal duur. Hy verwag dat dié sektor eers oor die volgende drie jaar weer die gunstige groeisyfers van verlede jaar sal bereik.
9 Desember 2009