
Op hoëtegnologieboerderybeginsels sal hy nooit as te nimmer bespaar nie, want nie net laat dit opbrengste met sowat 10% klim nie, dit verminder ook produksiekoste met 10%, sê mnr. Gerhard Bruwer van die Genade-boerdery.
Hulle vaar tans goed, maar hulle vra hulself gedurig af wat hulle béter kan doen. ’n Mens móét inflasie met rand en sent klop en dis waar hoëtegnologieboerdery ’n rol speel. Dit stel jou in staat om verder te kyk as net die gemiddelde, sê mnr. Gerhard Bruwer, oudste seun van mnr. Vickie Bruwer sr. van die Genade-boerdery in die Douglas-omgewing, wat verlede jaar aangewys is as ’n GWK-ikoon in die gewasproduksie-afdeling.
Die boerdery verbou 2 000 ha elk mielies en koring, 160 ha aartappels (50% vir verwerking, 30% vir moerproduksie en 20% vir die varsproduktemarkte), 900 ha lusern, 250 ha grondboontjies, 250 ha saadsonneblomme en 70 ha pekanneute. Hulle boer ook met sowat 800 Bonsmarakoeie en rond beeste in hul eie voerkraal af.
Sedert hulle hoëtegnologie-boerderybeginsels begin toepas het, het hulle minstens ’n 10% verhoging in opbrengs gesien en ook minstens 10% aan insetkoste bespaar.
“Ons gemiddelde opbrengs vir mielies is 15 t/ha en vir koring 8,8 t/ha. Ons het verlede seisoen ’n rekordoes van 4,7 ton grondboontjies per hektaar geoes.” Die jongste koringopbrengs was 9,1 t/ha waarvan 95% as B1 gegradeer het.
Hoëtegnologieboerdery (HTB) is ’n GWK-projek wat die afgelope ses jaar deur mnr. Dup Haarhoff, hoof van landboukundige dienste, bestuur word.
Die doel is om aan boere ’n volledige presisieboerderydiens te verskaf. Dit is ’n omvattende benadering waarmee data met satellietbeelde, vogmeters, blaarontledings, grondmonsters en ander bronne ingewin word sodat boere so gou moontlik op gewasse se werklike behoeftes kan reageer.
“Dit begin met besproeiingskedulering. Dan kyk ons na die kunsmis wat jy gee, en die kultivars wat jy op sekere lande plant. Ons kyk met beelde uit die lug na die chlorofil in die plante om die goeie en swak plekke op die landerye te identifiseer. Ons kyk ook na die NDM- (normalised differenced moisture) indeks,” verduidelik Gerhard.
Bemes nie net om te bemes
Grondmonsters bepaal watter kultivars hulle plant. Dinge wat hulle in ag neem, is die kultivars se groeityd, die plase se hoogte bo seevlak en die kilogram saad per hektaar wat hulle moet plant.
Profielgate word elke ses maande in die lande gegrawe. Mnre. Kallie Knox, Nico Badenhorst, Armand van Eck, Hannes Hattingh en Dup Haarhoff, landboukundiges by GWK, besoek dan die plaas om na die wortelontwikkeling en verdigtingslae te kyk.
“By koring gebruik ons die duisendkorrelmassa en kyk hoeveel kilogram ons van ’n spesifieke kultivar moet plant om ’n sekere hoeveelheid halms te kry.”
Voor planttyd doen hulle grondontledings sodat hulle die grondstatus ken en weet watter probleme uit die weg geruim moet word sodat regstellings dadelik gemaak kan word.
“Elke plaas se bemestingsprogram verskil – eintlik is dit anders vir elke spilpunt, maar ons is redelik eenvormig per plaas.
“Ons kan wel identifiseer as daar ’n spilpunt is waar die stikstofinhoud laer is, dan dien ons meer toe. In Amerika noem hulle dit spoon feeding, want jy gee vir die plant presies wat hy nodig het.”
Die Bruwers word bygestaan deur mnr. Reg Meintjies van Sidi Pirani, ’n maatskappy wat chemiese en organiese kunsmis verskaf. “Reg is deel van ons besigheid. Hy doen ons grondmonsters en ontledings voor die tyd en kom met ’n aanbeveling vir elke spilpunt. Dis hoe spoon feeding werk.”
Inkomste per mm water
Die lepeltjie-vir-lepeltjie-benadering geld ook skedulering – en eintlik elke liewe ander aspek van die boerdery.
“Ons gee nie water net om water te gee nie. Ons gee net wat die plant se behoefte is.”
Hy verkies neutronvogmeters, wat mnr. Kevin Virtue, landboukundige van GWK, weekliks monitor, om hom met besproeiingskedulering te help. “Dis belangrik, want elke week kom daar nog ’n oog in elkeen van my lande. Die neutronvogmeter is ook baie akkuraat.”
Die voglesings word Donderdae geneem, dieselfde dag dat die spilpunte begin loop.
“Elke spilpunt word individueel bestuur. Ek kyk wat ondergronds aangaan. As ek sien dit raak droër tot op 600 mm, weet ek daardie spilpunt moet meer water toedien. ’n Mens moet egter ook op jou eie aanvoeling staatmaak. As 60 mm water aanbeveel word, maar ek sien die land is besonder nat, besluit ek om eerder 55 mm te gee,” vertel Gerhard.
“Soms kom daar foute met tegnologie, daarom moet ’n mens op die bôl wees. As jy net gemiddeld is, gaan jy nêrens kom nie.”
“Die droogte is ’n probleem en daar is meer spanning, want jy moet jou goedjies fyn sny, maar ons het ’n kopskuif gemaak in ons besigheid. Ons het eerder gaan kyk na rand per millimeter. Ons het net ’n sekere hoeveelheid water, daarom moet ons gaan kyk hoeveel rand ons maak per millimeter water wat ons toedien. Ons het tans ’n 15% beperking op besproeiingswater.
“Ons het daarom besluit om eerder ’n bietjie minder koring en mielies, maar meer grondbone aan te plant.
“Grondbone vaar R/mm beter as mielies en koring omdat dit 30% minder water gebruik. Ons gaan ook ’n bietjie meer aartappels plant, want dis ’n hoëwaardegewas. My omset gaan dus basies dieselfde bly, al moet ek 15% minder besproei, want ek het die produkte met die hoër waardes meer gemaak. ’n Mens kan nie in sak en as gaan sit nie, jy moet ’n plan beraam.”
Hy glo in buigsaamheid, maar nie in bokspronge nie. “Jy het jou basiese aanplantings en jy kan sowat 10-20% na links of regs skuif. Moenie groot spronge maak nie.”
Op die Genade-plase word elke seisoen verskeie proewe gedoen om produksie aan te help. “Ons doen koring- en mieliekultivarproewe op eenvormige, nuwe lande en hou net die beste kultivars. ’n Kultivar moet minstens drie jaar goed vaar voordat ons dit op groot skaal aanplant.
“Ons wil voortdurend beter vaar en daarom moet jy in jou praktyke altyd iets beters doen. Jy kan niks aan die natuur doen nie, maar dit wat wel in jou hande is, kan jy nie net 99% doen nie. Ons leer elke seisoen nuwe lesse waarmee ons volgende seisoen veranderings maak.”
Lusern word nie net vir kontantvloei geplant nie, maar ook vir die voordele wat dit vir die grond inhou.
Hul beste lusern word deur GWK na Saoedi-Arabië uitgevoer. Die swakker gehalte word deur hul eie voerkraal benut.
Nadat die lusern doodgespuit is, word die grond losgemaak en dan word ’n vroeë mieliekultivar geplant. Dit word opgevolg deur koring, mielies en weer koring.
Op die kleigrond word dan weer lusern geplant, maar op die sanderige grond word eers ses maande lank grondbone verbou. “Ná jou grondboontjie is jou mielie- en koringoeste ook ’n halfton per hektaar beter, want dis ’n peulgewas wat stikstof in die grond bind.”
Aartappels word altyd op nuwe grond geplant om siektes te vermy. Dit word opgevolg met mielies, koring, mielies en koring.
“Jou aartappelbemesting is baie goed, dus is jou mielie- en koringoeste dan baie goed.”
Onmiddellike reaksietyd
Alle inligting uit die onderskeie bronne word deurentyd aan Gerhard-hulle gevoer sodat regstellings byna onmiddellik gemaak kan word. Hy meen ’n vinnige reaksietyd is deurslaggewend tot die sukses van HTB.
“Ons reageer vinnig. As iets ’n tekort het, word dit binne 24 uur reggestel. Dís die truuk. Ons doen een keer per maand blaarontledings en kan dadelik spuit as daar sink- of ystertekorte is.”
As besnoei moet word, sê Gerhard is HTB die laaste ding waaraan hy sal besnoei.
Volgens Dup kos dit gemiddeld R140/ha om aan die presisieboerderyprojek deel te neem.
“Dis eintlik kleingeld,” sê Gerhard. “Jou insetkoste met koring is sowat R20 000/ha. Mense wat dus meen dis te duur om die lugbeelde en ander rekords te kry, moet twee keer dink. Hulle bestee byvoorbeeld baie meer geld aan stikstof.”
Produksiepraktyke
Gerhard-hulle probeer hul lande so diep as moontlik bewerk. “Ons bewerk in die winter die grond 500 mm diep met ’n Super 32-tandwerktuig met V-skare. Die V-skare breek die grond tussen die tande behoorlik op en is eintlik ’n moet. Daarna sit ons ’n Lemken Rubin 12 oor, wat jou saadbedding lekker stewig maak, seker maak die plantoppervlak is stabiel en fyn, en die grond eweredig wanneer die planters loop.”
Planters word van plaas na plaas verstel volgens die grondtipes. Wanneer planters ingestel word, is al drie broers, hul pa en Reg by. En minstens twee moet duim in die lug steek dat dinge klopdisselboom is.
Ses weke ná planttyd spuit hulle onkruiddoder en twee weke daarna ’n groeireguleerder om die koring kort te hou. Dit is sodat meer energie na die are getranslokeer word en om hul risiko met wind tydens reëntyd te beperk en te keer dat die koring gaan lê. Wanneer die koring in vlagblaar is, spuit hulle weer ’n groeireguleerder en swamdoder.
“Dis deel van my versekering.”
Elke stroper is met ’n monitor toegerus.
“Alles trou dan, want as jy gaan kyk na ’n spilpunt se seisoensbeeld, kan jy sien waar ’n swak kol is. Jou opbrengs daar is ook swak. Wat ons die volgende seisoen gaan plant, word ook met hierdie strooptyd bepaal, want ons kies elke strooptyd se drie beste kultivars. As ons sien een val uit die bus, moet ons ’n nuwe een in sy plek kry.”
Spanwerk
Gerhard beklemtoon dat dit alles nie een man se werk is nie, maar hy sien dit as ’n spanpoging tussen sy “kunsmis-ou, die gif-ou en GWK se HTB-span”, almal deel van dieselfde boerdery.
“Almal kom elke week by elke spilpunt. Elkeen gee opbouende kritiek. Soms sien Kevin dat ’n land waar ek drie dae gelede was, binne twee dae luise gekry het en dan kan ek onmiddellik reageer.”
Ook Gerhard (35) en sy pa en broers, Hannes (32) en Vickie jr. (28), is ’n gedugte span.
“Ons drie boeties het elkeen sy eie eenheid. Ons kom ná die seisoen bymekaar en maak boeke oop en vra vir mekaar wat by hierdie of daardie spilpunt gebeur het, en dan moet jy verduidelik. Ons kan nie bekostig om rond te speel nie, maar ons moet presies weet wat aangaan. Ons gee mekaar raad en is ontvanklik vir mekaar se raad.”
Dis juis hierdie honger om te weet wat op elke spilpunt aangaan, wat hoëtegnologieboerdery so aantreklik maak vir Gerhard.
“Baie boere wil dit nie doen nie, want dis ’n bietjie meer moeite, maar ek is eerlik, ek sal nie ophou daarmee nie: Ek het mos nou gesien dis lonend. Jy moet alle waarde wat jy kan, byvoeg om 100% doeltreffend te wees. As jy ’n rand verloor, is dit uit jou besigheid uit.”
Navrae: Mnr. Gerhard Bruwer, e-pos: genadeboerdery@vodamail.co.za; sel: 082 878 5422.
• Dié artikel is geborg deur GWK. Besoek GWK se webblad by http://www.gwk.co.za/