Die Departement van Handel en Nywerheid het bevestig dat regspersone wel lede van primêre koöperasies kan word. 'n Bepaling dat 'n koöperasie deur vyf natuurlike persone gestig moet word, bly egter van krag. Ná die stigting kan regspersone egter as lede aansluit.
Dié bevestiging kom na indringende gesprekke wat die Landboubesigheidskamer (LBK) gevoer het oor die voortbestaan van landboukoöperasies in hul huidige vorm. Bepalings in die nuwe Koöperatiewe Wet het daarop gedui dat slegs natuurlike persone lede van primêre koöperasies en slegs regspersone lede van sekondêre koöperasies kan wees.
Volgens dr. Tobias Doyer, hoof uitvoerende direkteur van die LBK, het dit geïmpliseer dat koöperasies hul lede sou moes dwing om almal as regspersone te registreer óf dat lede in hul private hoedanigheid by 'n primêre koöperasie moes aansluit.
Die staatsregsadviseurs het aangedui dat koöperasies nog drie jaar lank in hul huidige vorm onder die vorige wet mag voortgaan. Daadwerklike pogings sal egter aangewend moet word om in hierdie tyd die wet te hersien sodat probleme om daaraan te voldoen, gehanteer kan word.
Volgens Doyer is nóg 'n probleem die geweegde stemreg vir lede in koöperasies sowel as die statutêre insluiting van die woord "landbou" voor die naam van 'n landboukoöperasie. Hy is egter oortuig dat daar genoeg tyd in die grasietydperk sal wees om die onafgehandelde kwessies te hanteer.
Landbouweekblad, 19 Januarie 2007