Monsters uit verskillende lande in Afrika gaan na die OVI gestuur word om vas te stel of dit die virus bevat.
Die LNR is deur die internasionale organisasie vir dieregesondheid (OIE) en die Voedsel- en Landbou-organisasie (VLO) van die Verenigde Nasies genader om kundigheid beskikbaar te stel om die uitbreking in Nigerië te monitor.
Volgens 'n verklaring van die LNR is die OVI aangewys as 'n ondersteuningslaboratorium vir voëlgriep op die vasteland en sal monsters deurlopend vir waarneming van die virus in Afrika daarheen gestuur word.
Bykomende personeel en toerusting word beoog om die toetse te doen.
Die vakbond Solidariteit sê in 'n verklaring daar is kommer oor die LNR se vermoë om die pandemie die hoof te bied.
Die vakbond sê die LNR het geen geld vir die OVI beskikbaar gestel waar die diagnostiek en monitering gedoen word nie. Geld kom uit ander oorde.
Solidariteit sê omstandighede by die OVI is nie na wens nie. Personeel werk sonder beskermende drag in laboratoriums en skoonmakers hanteer proefbuise en ander toerusting sonder handskoene.
Volgens mnr. Paul Bester, Solidariteit se senior organiseerder by die LNR, is die toestande strydig met die Wet op Beroepsgesondheid en -veiligheid.
Die LNR het die bewerings ontken en sê in 'n verklaring geld is vir bykomende hulpbronne beskikbaar gestel.
"Die LNR se personeel voldoen aan die hoogste praktykstandaarde en word ten volle deur die bestuur ondersteun". Hulpbronne is reeds aan die OVI beskikbaar gestel om aandag aan beroepsveiligheid te gee en meer sal in die boekjaar 2006/07 beskikbaar gestel word.
"Die bestuur is tevrede dat kritieke gebiede van veiligheid onder beheer is," lui die verklaring.
24 Februarie 2006