
“As een van die Brics-lande (Brasilië, Rusland, Indië, China en Suid-Afrika) is Suid-Afrika die poort na Afrika en MAN Truck & Bus (SA) (Pty) Ltd is gerat om logistieke dienste in die lande noord van ons te lewer,” sê mnr. Geoff du Plessis, uitvoerende voorsitter van dié maatskappy.
Du Plessis het tydens ’n mediakonferensie in Johannesburg gesê die maatskappy het die afgelope 12 maande goed presteer in Afrika en sy voetspoor lê reeds in 14 lande suid van die ewenaar. Hierdie bestaande Afrika-netwerk word steeds uitgebrei deur onafhanklike handelaars en versieningsentrums kontraktueel daarby te betrek.
Ondanks die strawwe ekonomiese omstandighede het die maatskappy goed gevaar in 2013. Die huidige vooruitsigte vir vragmotor- en busverkope vir 2014 lyk belowend en sal na verwagting die 2013-verkoopsyfers ewenaar.
Du Plessis sê die moedermaatskappy fokus in ’n groot mate op Suid-Afrika vir die ontwikkeling en toets van nuwe produkte, veral in die bosboubedryf. Só word die nuwe Euro 6 TGX-voorhaker reeds vir bykans ’n jaar lank in die uitdagende topografie en klimaat van KwaZulu-Natal deur sy passies gesit.
Nóg interessante ontwikkelinge is die nuwe gesertifiseerde 8X4 41.480 PBS-voorhaker, die Euro 6 TGX WW 26.480 wat ook plaaslik getoets word, die ontwikkeling van hidro-aangedrewe voertuie vir Afrika, ’n dubbelkajuit-brandweer op die onderstel van die 4X4 TGM 18.330 sowel as basiese, maar meer gerieflike, passasiersbusse vir munisipaliteite, het Du Plessis gesê.