
Voertuigvervaardigers het baie gou agtergekom dat die marksegment vir stoftrappers (sportnutvoertuie) die enigste een is wat deesdae groei en juis daarom het Mahindra South Africa sy splinternuwe TUV300 nou na die suidpunt van Afrika gebring.
Die Mahindra TUV300 se meer reguit lyne en op die oog af stewige, blokagtige bakontwerp onderskei hom beslis van die res van dié vervaardiger se plaaslike voertuigreeks.
Hy staan lekker hoog op sy wiele en bied 'n kombinasie van gerief én goeie werkverrigting in 'n waarde-vir-geld pakket.
Bonkige voorkoms
Die ontwerp-inspirasie met sy eenvoudige lyne en bonkige voorkoms spruit glo uit die voorkoms van 'n militêre tenk. Die hoësterkte staalbakwerk met kort oorhange en 'n billike grondvryhoogte, 15 duim allooiwielvellings, dakrelings, prominente sierrooster én 'n agter-gemonteerde noodwiel dra alles by tot die ‘kom-wat-wil-voorkoms’ en 'n indiwiduele teenwoordigheid op die pad ... geen ander voertuig lyk só nie!
Die bakwerk het voldoende frommelsones, sykant-beskermstawe en lugsakke.
Die binnekant is ruim en bied sitplek vir sewe mense. Klavierswart en dowwe chroomafwerking is binne vir afwisseling en beklemtoning gebruik. Onder die standaard-toerusting tel satellietkontroles op die stuurwiel vir die beheer van die klankstelsel, Bluetooth én die lugversorging.'n Ritrekenaar het netjies plek gekry tussen die ronde spoedmeter en toereteller.
Viersilinder turbo-dieselenjin
Die TUV300 word aangedryf deur die mHawk100 inlyn-viersilinder turbo-dieselenjin wat 73,5 kW drywing lewer teen 3 750 r/min en oor 240 Nm se wringkrag vanaf 1 600 r/min tot 2 800 r/min beskik. 'n Tweestadium-tuboaanjaer word ingespan om turbo-traagheid teë te werk en gladder wringkraglewering te verseker.
'n Vyfgang-handratkas met 'n eko-modus is glo verantwoordelik vir die voertuig se besondere brandstofdoeltreffendheid.
Wat die veerstelsel betref, word onafhanklike dubbelmikke met spiraalvere en 'n teenrolstaaf voor gebruik terwyl die agterwiele deur 'n veelskakelstelsel met spiraalvere en 'n teenrolstaaf op die grond gehou word. Die stoftrapper het 'n draaisirkel van 10,7 meter.
Prys: Die TUV300 T8 kos R229 995 (BTW ingesluit). Dit het 'n drie jaar of 100 000 km waarborg en 'n drie jaar of 90 000 km diensplan. Die eerste versieningsdiens moet op 10 000 km gedoen word waarna die diensintervalle 20 000 km is.