Korog uit die Universiteit van Stellenbosch (US) se korog-teelprogram het in die afgelope vyf jaar 'n onontbeerlike deel van Ethiopië se voedselvoorsieningsprogram geword, sê dié land se minister van omgewingsake wat die US se departement genetika (planteteelt-afdeling) onlangs besoek het.
Hoewel Ethiopië nie meer die beeld van 'n verhongerde nasie het nie, sal voedselsekuriteit vir sy regering en buitelandse nie-regeringsorganisasies (NGO's) wat daar werksaam is, altyd hoog op die agenda bly.
Vanweë die voortdurende soeke na volhoubare oplossings vir voedselsekuriteit in Ethiopië is die Fakulteit Landbou- en Bosbouwetenskappe in 1996 deur 'n Duitse NGO genader om te help om korogproduksie in Ethiopië te vestig. Proefresultate het opbrengste indrukwekkend verhoog vergeleke met broodkoring. Dié inisiatief het in 2000 uitgeloop op 'n besoek van mnr. Herman Roux, hoof van die US se korogteelprogram, aan Ethiopië om die uitbou van korogverbouing te bevorder.
Intussen is twee van die universiteit se korogkultivars, Tobie en Usgen 19, in Ethiopië as "Sinan" en "Maynet" vrygestel. Sedert 2000 oorskry die vraag na korogsaad jaarliks die aanbod.
Waar korog in Suid-Afrika primêr as dierevoer aangewend word, word al die graan in Ethiopië vir menslike gebruik benut. Twee van Ethiopië se mees alledaagse disse, Injera ('n groot, sagte, ingesuurde soort pannekoek) en Ambasha, ('n plat ongesuurde brood) word van korogmeel vervaardig.
Na aanleiding van die goeie resultate het die Ethiopiese nasionale regering sy steun verleen aan die uitbreiding van korognavorsing. 'n Eerste uitvloeisel van dié besluit was dat mnr. Tesfai Hagos, adjunkminister van omgewingsake (voorheen minister van landbou) van die Tigray-provinsie in die noorde van Ethiopië, op 'n besoek aan Suid-Afrika spesiaal na Kaapstad gereis het om met prof. Frans Marais, hoof van die US se Planteteelt-afdeling, en mnr. Herman Roux samesprekings te voer.
Mnre. Herman Roux (US korogteler), Tesfai Hagos (adjunkminister van omgewingsake van die Tigray-provinsie in die noorde van Ethiopië) en prof. Frans Marais (hoof van die US se Planteteelt-afdeling). (Foto: Lislé Snyman)
3 Junie 2005