Suid-Afrika het nie net die Wêreldbeker vir rugby omhoog gehou nie, maar vyf trofeë, wat as die Wêreldbekers vir wyn beskou kan word, het ook hul pad na Suid-Afrika gevind.
Dit was ook nie net die paralimpiese atlete wat Suid-Afrika ryker gemaak het aan medaljes nie, maar 'n verskeidenheid plaaslike wyne het ook medaljes ingeoes by die internasionale wyn- en spirituskompetisie in Londen.
Slegs 15 trofeë was op die spel en vyf hiervan het 'n nuwe huis in Suid-Afrika gekry. Stellenbosch, een van die land se tradisionele wyngebiede, het sy spiere gebult en vier van dié trofeë het na vier wynkelders binne 'n radius van 10 km van mekaar gegaan.
Die kompetisie is die eerste keer in 1969 in Londen gehou om die gehalte en uitnemendheid van die wêreld se beste wyne, spiritus en likeurs te bevorder. Vanjaar is 7 000 wyne van meer as 70 lande vir die strawwe kompetisie ingeskryf. Suid-Afrikaanse wynmakers het vyf van die 15 trofeë verower.
Tydens die strawwe beoordelingsproses word die wyne blind geproe en ook ontleed vir hul chemiese en mikrobiologiese inhoud.
Kanonkop, die bekende wynlandgoed naby Stellenbosch, het geskiedenis gemaak toe hy die eerste wynkelder ter wêreld word wat vir die derde keer die Château Pichon Longueville Comtesse de Lalande-trofee kon wen. Dit word aan die beste rooi versnitwyn op die kompetisie toegeken. Kanonkop se Paul Sauer 2003 was die wenner. Die trofee het in 1994 (vir die Paul Sauer 1991) vir die eerste keer op Kanonkop nesgeskop. In 1991 het dit die Paul Sauer 1995 te beurt geval.
Bellingham se The Bernard Series Old Vine Chenin blanc 2007 is as die Spier-trofeewenner aangewys. Twee Bellingham-wyne is as die beste in hul klas aangewys en vyf het medaljes gewen.
Die Mission Hill Family Estate-trofee vir chardonnay het na Delheim gegaan vir hul Delheim Chardonnay Sur Lie 2007.
Hartenberg se Merlot 2005 het die Spier-trofee vir Merlot gewen.
Die moderne vader van pinotage, mnr. Beyers Truter, het weer eens 'n lansie vir dié inheemse kultivar gebreek. Sy Tesco Finest Beyers Truter Pinotage 2006 is met die KWV-trofee vir pinotage bekroon.
Vergelegen se 2003 rooiwyn het vir die tweede keer 'n goue medalje verower. Dié kelder se Cabernet franc Merlot 2005 is ook aangewys as die beste in sy klas. 'n Verdere agt Vergelegen-wyne het medaljes ingepalm.
In die Paarl kan Nederburg goue- en klaswennermedaljes om hul 2005 Edelkeur se nek hang. Dié botritiswyn word néty by die jaarlikse Nederburg-veiling verkoop. Nederburg het Suid-Afrika se medalje-oes ook 'n hupstoot gegee met vyf klaswenners en tien silwer medaljes.
9 Oktober 2008