
Boerderye word gereeld, veral in ontwikkelende lande, met ontbossing verbind. Wetenskaplikes van die World Agroforestry-sentrum het egter onlangs in 'n studie wat met satellietbeelding gedoen is, bewys dat byna die helfte van alle boerderygebiede aansienlike boombedekking het.
Dié studie is die eerste van sy soort wat bewys watter belangrike rol bome in landbouproduksie regoor die wêreld speel. Daar is bepaal dat boombedekking meer as 10% van 1 miljard hektaar (dit is 46% van die wêreld se plase waarop 500 miljoen mense ook woon) beslaan.
“Die gebied wat in die studie bekend gemaak is, is twee keer groter as die Amasone. Dit wys dat boere bome beskerm en vanself nuwe bome aanplant,” het mnr. Dennis Garrity, die direkteur-generaal van die sentrum, gesê. “As bome nie op groot skaal in landbougemeenskappe regoor die wêreld aangeplant word nie, sal daar nie voordeel getrek kan word uit die totale waarde wat bome bied nie.”
7 September 2009