
Daar is groot geleentheid vir die suiwelbedryf om die Afrika-mark uit te brei, sê mnr. Tom Opio Oming, voorsitter van die Eastern and Southern African Dairy Association (ESADA).
Hy het tydens ESADA se jaarkongres, wat vandeesweek in Johannesburg gehou word, gesê handel binne dié streek moet aangemoedig word en rolspelers moet meer mededingend word. “Die mark is groot genoeg vir almal. Ons moet die per capita-verbruik verhoog.”
Uganda se per capita-verbruik staan tans op sowat 56 liter, terwyl Kenia se verbruik op 100 liter per jaar staan, volgens Oming. Volgens internasionale standaarde behoort ‘n volwassene jaarliks sowat 200 liter melk te verbruik.
Regerings en rolspelers in die melkbedryf moet saamwerk om dié markte te ontwikkel, het hy bygevoeg. Oming sê die landbou speel ‘n belangrike rol in Afrika se ekonomiese en sosiale ontwikkeling. “Dit (landbou) is ‘n voorwaarde vir groei. Die landbou is die enjin vir groei.”
5 Augustus 2009