Suid-Afrika se melkboere is omgekrap. Hulle produseer melk teen 'n verlies, terwyl die melkkopers en supermarkte wins maak. Almal maak geld uit melk, behalwe die boere wat moet sorg dat daar melk is.
Dít is hoe die boere voel en dit is hoekom hulle onlangs na Pretoria opgeruk het om hul standpunt te stel. Hulle wil R2 per liter hê sodat hulle 'n wins kan maak. Hulle kry van R1,35 tot R1,80 per liter, na gelang van die koper. Met só 'n prys kan hulle nie 'n wins maak nie. Van die boere sê hul produksiekoste het die afgelope 9 tot 12 maande met 70 % gestyg. Oor dieselfde tydperk het hul melkprys met net 20 % gestyg.
Wat boere nog verder omkrap, is die groot verskil tussen wat hulle kry en die prys wat die verbruiker in die winkel betaal.
Die prys wat die boer ontvang en die prys wat die handelaar daarvoor betaal, kan volgens 'n omrekeningsfaktor bereken word. Hierdie faktor wissel van 1,80 tot sowat 2,55, wat beteken dat die prys wat die handelaar vir melk by die verwerker betaal, sowat R4,34 per liter (2,55 x R1,70 per liter wat die boer kry) is. In Nieu-Seeland is die omrekeningsfaktor 2,92. Hierdie verskil in die twee pryse vergoed vir die koste wat die melkkoper aangaan om die melk op die plaas op te laai, te verwerk, te verpak en te versprei, asook vir 'n wins vir die verwerker. Hoewel Nieu-Seeland se boere minder van die verbruikersrand vir hul melk kry, word hulle heelwat meer vir die vaste stowwe betaal as die Suid-Afrikaanse boere. Plaaslike boere kry tans sowat R1,60/kg vir melk met 'n bottervetinhoud van 3,8 % en 'n proteïeninhoud van 3,2 %, terwyl die Nieu-Seelandse boere sowat R1,76/kg ontvang.
Suid-Afrika se melkkopers ontken dat daar 'n melktekort aan die kom is. Volgens mnr. Johann Theron van die Suid-Afrikaanse Melkorganisasie (Samo), is dit gewoon dat melkproduksie daal tydens die winter. Die suiwelbedryf maak voorsiening daarvoor.
"Ons verwag geen tekorte hierdie winter nie, want die bedryf hou voorrade reg vir die maande wanneer daar minder melk geproduseer word. Sou daar een of ander tekort ontstaan, sal ons dit teen bekostigbare pryse kan invoer ? produkte soos melkpoeier, kaas en botter is volop in die internasionale mark beskikbaar".
Volgens die Suid-Afrikaanse Melkfederasie (Samfed) se syfers vir 2001, blyk dit dat boere verlede jaar 2 067 676 ton melk aan melkerye vir verwerking gelewer het.
Die verbruik oor dieselfde tydperk was 1 202 637 ton vars melk, plus gekonsentreerde melkprodukte tot die ekwivalent van 841 891 ton melk vir 'n totaal van 2 044 528 ton. Dit is effens minder as die vorige jaar se totale verbruik van 2 051 453 ton. Die totaal van 1 976 907 ton wat in 2000 gelewer is, was egter heelwat minder. Volgens voorlopige ramings van die MPO was melkproduksie vir 2001/2 altesaam 1 990 000 ton en die verbruik 2 003 000 ton. Samfed beraam dat aan die einde van verlede jaar die suiwelvoorraad in Suid-Afrika 180 000 ton melkekwivalent beloop het.
Boere, by monde van mnr. Sean Hughs van Ficksburg, meen dit is 'n skande dat kopers dit oorweeg om gesubsidieerde melkprodukte in te voer, eerder as om plaaslike melkboere meer te betaal.
Volgens dr. Koos Coetzee, ekonoom van die Melkprodusente-organisasie (MPO), was invoerpariteit vir melk teen die begin van April vanjaar sowat R2,22 per liter, waarby subsidies wat die Europese Unie-lande aan hul boere betaal, ingereken is. Tabel 1 gee 'n paar voorbeelde hiervan. Dit beteken die EU subsidieer kaas met 50 % van die wêreldprys en botter met 132 %. Sedertdien het die subsidie op afgeroomde melkpoeier tot 500 euro per ton opgeskiet. Dit beteken die subsidie is nou R4,95/kg.
Volgens Samfed is 17 759 ton suiwelprodukte verlede jaar ingevoer, vergeleke met 27 105 ton die vorige jaar. Altesaam 20 759 ton suiwelprodukte is ook uitgevoer, wat heelwat minder is as die 29 669 ton die vorige jaar.
Kenners met wie Landbouweekblad gepraat het, is dit eens dat té klein melkkuddes een van die groot probleme in die melkbedryf is. Tabel 2 wys waarom dit so is. Altesaam 45 % van die melkboere lewer 500 l per dag.Teen gemiddeld 18 l per koei beteken dit dat hulle sowat 18 tot 20 koeie per dag melk. Hoewel dié boere 45 % van ál die melkboere in Suid-Afrika is, lewer hulle net 9 % van die totale produksie.
TABEL 1: Subsidies in die EU vanaf 25 Januarie 2002 |
Produk | Subsidie | Subsidie as % |
(Euro/t) | (R/kg) |
Cheddarkaas | 999,10 | 9,90 | 51 |
Goudakaas | 900,80 | 8,93 | 47 |
Volroommelkpoeier | 780,00 | 7,73 | 50 |
Afgeroomde melkpoeier | 300,00 | 2,97 | 19 |
Botter | 1 750,00 | 17,34 | 132 |
Wisselkoers: 1 Euro = R9,91 |
Bron: Clover |
Dié wat tot 2 000 l per dag lewer en dus net meer as 100 koeie per dag melk, is 79 % van die totale getal melkboere, maar hulle lewer net 27 % van die produksie. Tabel 2 wys ook dat die boere wat 4 000 l per dag produseer, net 21 % van die totaal is, maar 63 % van die totale melkproduksie lewer.
TABEL 2: Melkproduksie in Suid-Afrika: 1995 tot 2001 |
Produksie(l/dag) | Persentasie van boere | Persentasie van produksie |
1995 | 2001 | 1995 | 2001 |
0 ? 500 | 58 | 45 | 19 | 9 |
501 ? 1 000 | 21 | 17 | 20 | 9 |
1 001 ? 2 000 | 13 | 17 | 24 | 19 |
2 001 ? 4 000 | 6 | 11 | 22 | 24 |
4 001 ? 6 000 | 2 | 5 | 5 | 15 |
6 000 | 0 | 5 | 10 | 24 |
Bron: MPO-beraming |
Uit 'n studie wat gesamentlik deur dr. Koos Coetzee, MPO-ekonoom, en mnr. Kenneth Botha, bestuurder: suiwelvoeding van OTK-Agri Produkte, gedoen is, blyk dit dat die hoë produksiekoste dit vir 'n boer met 100 melkbeeste en minder moeilik maak om melk winsgewend te produseer. Tabel 3 toon dit duidelik.
Hulle stel sekere strategieë voor waarmee boere hul inkomste kan verhoog. As produksie per koei van 18 l per dag tot 25 l verhoog word, word die marge bo voerkoste met 33 c/l verhoog. Indien die kuddegrootte tot 200 uitgebrei word, word 'n soortgelyke voordeel verkry. Deur die vermorsing van voer te beperk, kan 'n boer sowat 5c/l op voerkoste bespaar.
TABEL 3: Inkomste en koste van 'n kudde |
Inkomste: |
Veeverkope |
Melkverkope |
Totale bruto inkomste |
Koste: |
Voeding |
Veeartseny |
Arbeid |
KI |
Elektrisiteit/brandstof |
Ander |
Waardevermindering |
Totale koste |
Netto boerdery-inkomste |
Minus: rente (10 % op skuldlas) |
Lewenskoste (R12 000/maand) |
Besteebare inkomste* |
Bron: MPO (Verwerk vanaf OTK-produksiekoste-opnames) |
Melkboere aan die ooskus wat hul eie voer kan produseer omdat die klimaat daarvoor geskik is, staan ook 'n beter kans om wins te maak, soos in tabel 4 gesien kan word.
Vervoer kos melkkopers baie. Melkproduksie is deesdae in die kusgebiede gekonsentreer, maar die verwerkingsaanlegte is nog in die binneland. Melk word uit die Tsitsikamma-gebied na die kaasfabrieke in Gauteng en in die Vrystaat vervoer, van Kaapstad na Bloemfontein, Alexandria na die Oos-Vrystaat, Cradock na Kareedouw, Kwazulu-Natal na Gauteng en Pinetown na Pietersburg. Dit kos miljoene rande per jaar en boere vra of dit nie goedkoper sal wees om die verwerkingsaanlegte na die produksiegebiede te verskuif nie.
Voorts is talle van die aanlegte nie in volle produksie nie en werk byvoorbeeld net twee of drie dae per week. 'n Fabriek wat teen minder as 80 % van sy vermoë werk, werk teen 'n verlies, sê dr. Pieter de Villiers, bestuurder van die MPO.
Volgens boere ry die kopers te veel. Met die uitgestrekte produksiegebiede en die groot getal kleiner melkboere moet ver gery word om melk bymekaar te maak. Die mededinging is straf en in die meeste gebiede is daar tot vyf kopers. Talle tenkwaens is net halfvol as dit by die fabriek opdaag.
In Suid-Afrika kos die vervoer 45 % tot 48 % van die totale verwerking ? wat van die verbruiker verhaal word ? terwyl kopers weens die laer winsgrens as gevolg hiervan die boere nie kan betaal wat hulle toekom nie. In lande soos Australië en Nieu-Seeland kos vervoer sowat 20 % van die totale verwerking.
'n Gedagte wat deur sommige boere geopper word, is dat melkboere moet saamstaan en streekko?erasies stig waar die melkkopers dan hul melk moet koop. Boere sal dan self die prys vir hul melk kan bepaal.
Mnr. Elmo van der Merwe van Slabberts meen boere moet 'n melkveilingstelsel in elke produksiegebied begin. Veilings word elke ses maande gehou en melkkopers bie vir 'n prys. Wanneer 'n prys só vir 'n boer se melk vasgemaak is vir die volgende ses maande, gaan die koper 'n kontrak met die boer aan vir die lewering van die aangebode hoeveelheid melk. As 'n boer dit nie kan lewer nie, moet hy dit koop vir lewering. Dit sal onder meer vervoerkoste besnoei, meen mnr. Van der Merwe.
TABEL 4: Só vaar melkboere in die kusgebied |
Werklik(c/l) | % van koste | Beraam(c/l) | % van koste |
Inkomste: |
Melkinkomste | 140,00 | 93,3 | 170,00 | 93,4 |
Veeverkope | 10,00 | 6,7 | 12,00 | 6,6 |
Totale inkomste | 150,00 | 100,0 | 182,00 | 100,0 |
Koste: |
Voerkoste | 34,70 | 23,1 | 51,00 | 28,0 |
Voer | 30,00 | 20,0 | 35,10 | 19,3 |
Voer van verse | 9,16 | 6,1 | 13,74 | 7,5 |
Arbeid | 10,55 | 7,0 | 11,60 | 6,4 |
Veeartseny | 9,20 | 6,1 | 10,58 | 5,8 |
Brandstof | 5,00 | 3,3 | 5,50 | 3,0 |
Herstelwerk | 4,00 | 2,7 | 5,00 | 2,7 |
Waardevermindering | 4,00 | 2,7 | 4,00 | 2,2 |
Krag | 3,00 | 2,0 | 3,10 | 1,7 |
Ander | 2,00 | 1,3 | 2,50 | 1,4 |
Huurtoerusting | 0,81 | 0,5 | 0,97 | 0,5 |
Totale koste | 114,42 | 76,3 | 145,29 | 79,8 |
Bedryfswins | 35,58 | 23,7 | 36,71 | 20,2 |
Min: |
Bestuursvergoeding | 10,00 | 6,7 | 11,00 | 6,6 |
Rente | 6,00 | 4,0 | 6,00 | 3,3 |
Netto wins | 19,58 | 13,1 | 19,71 | 10,8 |
Talle faktore bepaal prys
Die melkprys word nie meer vasgestel nie. In die vrye mark word oor die prys tussen die boer en die koper onderhandel.
Verskillende kopers gebruik verskillende stelsels: Van 'n eenvoudige prys per liter tot een waar proteïen, bottervet, volume en gehalte in berekening gebring word. Dan is daar nog seisoensaanpassings, soos winterpremies.
Sowat 36 faktore kan 'n rol in prysbepaling speel. In enige stadium kan die verskil tussen die laagste en die hoogste prys vir die boer tot 50c/l wissel.