Die wetlike maatreëls vir die Suid-Afrikaanse melkbedryf sal op 23 Desember 2009 verval en die Suid-Afrikaanse Melkprosesseerdersorganisasie (Sampro) het by die Minister van Landbou aansoek gedoen om dié maatreëls vir 'n verdere vier jaar, tot in 2013, te behou.
Die Minister het op 14 Julie kennis van die versoek, en die feit dat dit met die wet vir die bemarking van landbouprodukte van 1996 ooreenstem, geneem. Die versoek word nou deur die Nasionale Landboubemarkingsraad ondersoek. Die raad sal binne 60 dae aan die Minister rapporteer.
Die doel van die wetlike maatreëls rakende registrasie is om sekondêre rolspelers in die melkbedryf te noop om by Melk Suid-Afrika (MSA) te registreer. Dit sal kommunikasie rakende tegniese kwessies, voedselveiligheid en die standaarde van produkte in die melkbedryf verbeter.
Sê jou sê
Ander maatreëls skep 'n wetlike meganisme vir melkprosesseerders, handelaars, makelaars, verspreiders, invoerders en uitvoerders om rekords te hou en opgawes aan MSA te verskaf. Dié inligting sal ontleed word en marktendense sal dan aan rolspelers en die Regering verskaf word.
Die voorgestelde heffings is onveranderd teen 1 sent per liter melk en die beraamde inkomste van die heffings beloop sowat R25 miljoen per jaar. Die fondse sal gebruik word om verbruikers voor te lig, melkstandaarde te handhaaf, diegene wat voorheen benadeel is te bemagtig, navorsing en ontwikkeling te bevorder en inligting aan die bedryf te verskaf.
Die verklarende notas rakende die maatreëls behoort op 1 Augustus in die Staatskoerant gepubliseer word. Diegene wat deur die maatreëls geraak word kan kommentaar op skrif na Landboubemarkingsraad rig by hul faksnommer 012 341 1811/1911, of kan met mnr. Schalk Burger in kontak tree by schalk@namc.co.za. Kommentaar moet die raad voor 15 Augustus bereik.
22 Julie 2008