
Die Suid-Afrikaanse verbruiker het die beste melkboere tot sy beskikking wat hul produk teen die mededingendste prys op die vasteland en in die internasionale konteks produseer.
Hul bydrae ten opsigte van voedselsekerheid, ’n gesonde dieet en algemene gesondheid van die breë gemeenskap is ontsaglik groot. Mnr. Nelius van Greunen, bekende melkboer van George en gewese voorsitter van die Melkprodusente-organisasie (MPO), het op 'n inligtingsdag op George gesê hierdie voordele spoel toenemend deur na die lande suid van die Sahara waarmee Suid-Afrika handel dryf.
Volgens hom moet landbounavorsing van so ’n aard wees dat gewone melkboere dit verstaan en prakties in hul boerderye kan aanwend. Navorsingsinligting en tegnologie wat internasionaal ontwikkel word, moet ook vir die plaaslike boer beskikbaar wees. “Navorsing moet prakties gerig wees, en die resultate moet na die boer deurgegee word as bedryfsgerig,” het hy gesê.
Melk kon 15 jaar gelede baie goedkoper as tans in Suid-Afrika geproduseer word. “Dit is nie meer so nie en dit lei tot talle hindernisse.” Daar is haakplekke omdat die wêreldbevolking drasties groei en verstedelik, energietekorte staar almal in die gesig en grond- en waterbeperkings in die landbou is aan die orde van die dag. “Dit alles maak landbounavorsing soveel belangriker. Die koste van energie styg vinniger as produsentepryse. Dit sal veral ernstige aandag moet kry.”
Van Greunen het gesê die verbruik van melk per kop neem toe en daarom is dit belangrik dat melkboere bemarkingsgeleenthede benut. Hy het die navorsingsplaas en sy personeel geloof vir hul werk. “Dit is die enigste instansie in Suid-Afrika wat toegepaste weidingsnavorsing met melkkoeie doen. Die navorsing vind plaas binne die konteks van weiding- en koeiproduksie wat volgens kommersiële norme moet presteer.”