Talle melkverwerkers is ontevrede met die Mededingingskommissie se optrede in sy ondersoek na pryssamespanning in die melkbedryf.
Sommige van die verwerkers het hulle na die Appèlhof gewend, terwyl andere hul ontevredenheid met die kommissie se optrede aan die Mededingingstribunaal te kenne gegee het. Die kommissie kon nie sy saak teen die vermeende kartelle aan die Mededingingstribunaal stel nie aangesien hy verlede week sy optrede moes verduidelik.
Die lank verwagte saak oor moontlike kartelbedrywighede in die land se melkbedryf kon dus nie begin nie.
Ten spyte daarvan het die kommissie wel 'n deurbraak gehad toe hy die eerste suksesvolle skikkingsooreenkoms met 'n melkverwerker bereik het. Lancewood het erken dat hy betrokke was by die vasstelling van pryse wat aan boere betaal word. Ná onderhandelings is daar tot 'n vergelyk gekom dat Lancewood 'n administratiewe boete van R100 000 sal betaal. Hy sal die owerheid verder bystaan om enige verdere ongerymdhede aan die kaak te stel.
Lancewood het 'n paar maande gelede saam met Clover SA, Ladismith Kaas, Parmalat en Nestlé SA geprobeer om die kommissie se saak te systap. Die aansoek was onsuksesvol en van die verwerkers het hulle nou na die Appèlhof gewend.
Uit Landbouweekblad, 30 Januarie 2009
27 Januarie 2009