Twee melkverwerkers se pogings om nie verder deur die Mededingingstribunaal vervolg te word nie, het misluk.
Clover en Ladismith Kaas is vroeër vanjaar op verskeie klagte van samespanning in die melkbedryf deur die Mededingingskommissie voor die tribunaal gedaag.
Clover en Ladismith Kaas het beswaar gemaak teen die tydperk wat dit geduur het om die saak te ondersoek. Die kommissie moet 'n ondersoek gewoonlik binne 'n jaar vanaf die aansoekdatum afhandel en na die tribunaal verwys.
Hulle sal nou saam met ander verwerkers op die amptelike verhoor op 29 September in die beskuldigdebank moet staan.D ie Mededingingskommissie het in Februarie 2005 onmededingende praktyke onder melkverwerkers begin ondersoek.
Die saak is na die Mededingingstribunaal verwys en dit is nou dié instansie se taak om vas te stel of Clover SA, Parmalat, Ladismith Kaas, Woodlands Dairy, Lancewood, Nestlé SA en Milkwood Dairy inderdaad skuldig is aan kartelvorming.
Landbouweekblad, 4 Julie 2008