
Afgri, die JSE-genoteerde landboubesigheid, het 11 van sy kleinhandelstakke aan MGK Bedryfsmaatskappy verkoop as deel van sy strategie om op sy kernbedryf, die graanwaardeketting, te fokus. Dié winkels verskaf landbouprodukte en -produksiemiddele aan boere.
Die koste van die transaksie beloop R47,5 miljoen vir sekere vaste bates en besighede asook die waarde van voorraad in die handel (sowat R62,5 miljoen). Sowat R23,75 miljoen sal regstreeks aan Afgri betaal word
Daar sal na verwagting geen werkverliese in die betrokke handelstakke wees nie. “Die hoofrede vir die verkoop van dié handelstakke strook met Afgri se strategie om die kleinhandel te verlaat en op sy kernbedryf – die graanwardeketting – te fokus. Ons is oortuig dat MGK se filosofie die beste belange van boere op die hart dra,” sê mnr. Chris Venter, hoof uitvoerende beampte by Afgri.
Takke in Brits, Thabazimbi, Vaalwater, Marble Hall, Groblersdal, Burgersfort, Hoedspruit, Nelspruit, Barberton, Malelane en Komatipoort word geraak.
22 Julie 2009