Die neiging in die melkbedryf die afgelope paar seisoene na minder boere met hoër produksie per boer, duur voort. Die gemiddelde melkboer produseer nou 1 000 liter melk per dag, teenoor minder as 700 liter melk per dag in 1997.
Volgens die jongste uitgawe van Lacto Data in die September-uitgawe van The Dairy Mail, amptelike tydskrif van die Melkprodusente-organisasie (MPO), blyk dit dat die getal melkboere van Desember 1997 tot in Junie 2002 van 7 916 tot 5 273 afgeneem het. In 1995 het 58 % van die land se melkboere minder as 500 liter melk per dag gelewer. Dit was 19 % van die totale melkproduksie.
Verlede jaar het dié groep 45 % van die land se melkboere verteenwoordig, maar hulle het net nege persent van die totale melk gelewer. In 1995 het 79 % van die land se melkboere wat minder as 1 000 liter melk per dag gelewer het, vir 39 % van die totale melkproduksie gesorg. Dié groep het verlede jaar tot 62 % gekrimp, maar hulle het net 18 % van die melk gelewer.
In 1995 het 21 % van die land se melkboere meer as 1 000 liter per dag gemelk en 61 % van die totale produksie gelewer. Dié syfer het drasties verander. Verlede jaar het 38 % van die land se melkboere in dié kategorie 82 % van die land se melk geproduseer. In 1995 was daar nie een melkboer wat meer as 6 000 liter per dag gemelk het nie. Tans is daar vyf boere wat dit doen. Hulle lewer 24 % van die totale melkproduksie.
Volgens Lacto Data is melkproduksie ook aan die daal, hoofsaaklik weens stygende produksiekoste en hoë vleispryse. Weens die hoë produksiekoste het baie boere kragvoeraankope skerp gesny, terwyl talle boere hul melkkuddes uitverkoop. Heelwat melkbeeste land in die slagplaas waar boere goeie pryse vir die vleis kry.
Melkproduksie het weliswaar in die 2001/02-seisoen met 3 % tot 1 984 miljoen liter gestyg, maar die vorige seisoen se produksie was besonder laag. Van Oktober verlede jaar het produksie skerp begin afneem weens die hoë produksiekoste en goeie vleispryse en teen Maart vanjaar was dit reeds 3,4 % laer as in dieselfde tyd die vorige seisoen.
6 September 2002