
’n Vars wetenskaplike oog word in ’n nuwe studie oor die ou probleem van muggieplae gegooi. Dié probleem, wat skaapboere alleen konserwatief geraam jaarliks R300 miljoen tot R500 miljoen aan verliese kos, word met vernuwende benaderings getakel danksy tegnologiese ontwikkelings.
Een daarvan is ’n beoogde selfoontoepassing wat burgerlike “wetenskaplikes” in staat sal stel om bydraes tot die monitering van die muggies te lewer, sê dr. Nick Rivers-Moore, ’n akwatiese ekoloog wat by die projek betrokke is.
Nick sê die jongste studie het in April 2015 begin en sal tot in Julie 2017 duur. Die Waternavorsingskommissie (WNK) van Suid-Afrika betaal daarvoor, met bykomende finansiering van die rooivleisbedryf se navorsing-en-ontwikkelingsprogram (RMRD SA).
Projeknavorsers sluit muggie-spesialiste en twee meestersgraadstudente in, wat saam met die Regering en private sektor werk om die oorsake en bestuur van die muggieprobleem te herevalueer.
Hulle gebruik historiese data, neem muggiemonsters in verskillende habitatte en samel nuwe data in oor watertemperatuur en -troebelheid – alles daarop gemik om plaaguitbrekings beter te kan voorspel. Die data word gebruik om ’n model te ontwikkel waarmee die waarskynlikheid van uitbrekings voorspel kan word, gegrond op verskillende scenario’s van klimaatsverandering, vloeivlakke en bestuursbenaderings.
Uitbrekings nie buitengewoon
Mense wat naby die Benede- en Middel-Oranjerivier woon, vanaf Hopetown stroomaf na Sendelingsdrif, is gewoond aan periodieke uitbrekings van muggieplae, meestal van die spesie Simulium chutteri, sê Nick. Toeriste wat die Augrabies-waterval en Richtersveld besoek, ken dit ook goed.
Die spesie is inheems tot party van Suid-Afrika se groter rivierstelsels, soos die Oranjerivier in die Noord-Kaap en die Groot-Visrivier in die Oos-Kaap. Die lewensiklus van die muggies is gewoonlik 12 dae tot 24 dae na gelang van die tyd van die jaar en watertemperature, verduidelik Nick.
Volwasse wyfies versprei groot hoeveelhede eiers in poele bokant witwater-stroomversnellings. Die eiers dryf stroomaf. Buisvormige larwes broei daaruit, wat deur sewe stadiums gaan voordat hulle papies word sodra hulle 6 mm tot 8 mm lank is.
Die papies is nie-voedend en is op rotse en riete te sien in syagtige “sakkies” van 3 mm tot 4 mm lank. Die volwasse muggies kom hieruit te voorskyn en neem gebiede naby die rivier in.
Wyfies soek bloed
Terwyl die manlike én vroulike muggies op nektar voed, het die volwasse wyfies ook ’n bloedmaal nodig om proteïene vir eierproduksie te verskaf. Dit is wanneer hulle veeboere, werkers en ander mense begin teister.
Periodieke uitbrekings het wel in die verlede van nature in dié gebied voorgekom, maar dit het veral in ’n groot probleem stroomaf geword nadat groot opdammingstrukture, soos die Gariep- en Vanderkloofdam in die Oranjerivier en die Oranjerivier-Groot-Visrivier-oordragskema, opgerig is.
Baie van hierdie ingenieursprojekte is in die middel tot laat 1970’s voltooi. Hoewel dit tot groot voordeel vir watergebruikers was, het dit ook die rivierstelsels se natuurlike vloeipatrone betekenisvol verander.
Hierdie veranderings het die ideale toestande vir S. chutteri-muggies vir die grootste deel van die jaar bewerkstellig. Dit het meegebring dat dié muggies die akwatiese gemeenskappe waarin hulle voorkom, in oorweldigende getalle begin oorheers het.
Nick sê die probleem het in die 1970’s ál meer opmerklik geword, en die Oranjerivier-muggiebekampingsprojek is uiteindelik in die middel 1990’s begin.
Al twee dekades bestry
Dié projek word al sowat 20 jaar lank aktief bedryf deur die plaaslike kantore van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye op Upington en De Aar.
’n Helikopter wat ’n larwebestrydingsmiddel uit die lug toedien, takel sowat 300 broeiplekke oor 800 km al met die rivier langs – ’n arbeidsintensiewe en duur proses. Die bestryding moet verkieslik plaasvind voor die larwegetalle probleemvlakke bereik en word gedoen op grond van weeklikse monitering op verskeie plekke in die gebiede wat gewoonlik getref word.
Uitbrekings vind nogtans steeds van tyd tot tyd plaas – vandaar die nuwe navorsingsprojek.
Navrae: Dr. Nick Rivers-Moore, sel 072 199 1472; e-pos: blackfly1@vodamail.co.za.
- Dié artikel is geborg deur GWK. Besoek GWK se webblad by http://www.gwk.co.za/