Grondaansoeke vir die vestiging van 'n biobrandstofbedryf in Mosambiek oortref al die totale grondoppervlak wat vir die landbou in dié land benut word.
Mnr. Salvador Namburete, Mosambiek se minister van energie, sê van die 36 miljoen hektaar bewerkbare landbougrond word 5 miljoen hektaar deur die landbou benut. "Sedert verlede jaar is aansoeke vir meer as 5 miljoen hektaar ontvang waarop ondernemings grondstowwe vir biobrandstof wil plant." Daarbenewens is daar 'n verdere 41 miljoen hektaar marginale grond beskikbaar vir gewasse soos die purgeerboontjie wat ideaal geskik is vir biodiesel.
Hy het op die Afrika-biobrandstofkonferensie in Durban gesê die Mosambiekse regering het voorlopige regulasies aanvaar vir die grootskaalse vervaardiging van biobrandstof vir plaaslike verbruik en uitvoer. Dit sluit in die verpligte inmenging van biodiesel en bio-etanol van 5% tot 10% by die plaaslike brandstofpoel sodra daar genoeg voorraad is.
Hy sê verskeie projekte is reeds aan die gang en talle ander wag op goedkeuring. Die eerste aanleg vir biodiesel - met 'n vermoë om 80 000 liter per dag te vervaardig - is in Augustus in gebruik geneem. "Die regering is tot op die hoogste vlak sterk verbind tot die suksesvolle vestiging van die bedryf. President Armando Guebuza staan persoonlik aan die hoof van 'n veldtog om plantasies van purgeerboontjies op talle plekke in die land te vestig."
Volgens hom is 'n volledige studie oor die potensiaal, omgewingsinvloed, maatskaplike gevolge en markgeleenthede reeds voltooi. 'n Nasionale beleid en strategie behoort teen die einde van die jaar voltooi te wees.
Namburete sê die vervaardiging van biobrandstof in ontwikkelende lande kan help om armoede te verlig en werk te skep, veral in landelike gebiede waar armoede die ergste is.
"Mosambiek besef dat sy natuurlike hulpbronne nie die deurslaggewende faktor is om beleggers te lok nie. Dit moet gerugsteun word deur volgehoue hervormingsprogramme om makroekonomiese stabiliteit en doeltreffende bestuur te verseker." Hy sê die regering is besig met stappe om die koste van besigheid te verminder, prosedure vir lisensiëring te vergemaklik en basiese infrastruktuur te verbeter. Deel hiervan is 'n handelskode wat verlede jaar aanvaar is om rompslomp te verminder.
Opbergingsgeriewe vir biobrandstof word gevestig en verbeter en 'n pyplyn van 450 km word gebou om Maputo se hawe met Witbank in Suid- Afrika te verbind.
Landbouweekblad, 12 Oktober 2007